MUSIEK
Musiek as vak is ʼn sterk aanbeveling vir enige studierigting, omdat musiekleerders akademiese veelsydigheid en selfdissipline as gesogte uitkomste vir hierdie vak aanleer. Die brein word in totaliteit ontwikkel en kruiskontrole tussen die breinlobbe word in geen ander vak so effektief uitgedaag en ontwikkel nie. Musiek tel vir TPT-punte.
Dit is ongelukkig nie moontlik vir ʼn leerder om in graad 10 eers met Musiek as vak te begin nie; daarom is alle voornemende kandidate onderworpe aan ʼn keuringsproses. Leerlinge wat reeds in graad. 8 en 9 Musiek as vak geneem het, word op grond van prestasie in die vak gekeur, andersins word aanbeveel dat ʼn leerder op minimum graad 3 praktiese en teoretiese vlak moet wees om sukses te behaal.
Musiek word as agtste vak aangebied.
BELANGRIK OM TE WEET
Leerders het die opsie om eksterne praktiese en/of teoretiese eksamens van UNISA, Associated Board of the Royal Schools af te lê. Slegs een instrument word saam met die relevante teoretiese komponente aangebied, maar leerlinge wat ʼn tweede instrument buitemuurs neem, kan dit ook as deel van die praktiese komponent van die vak aanbied.
Dink hieroor na – leerlinge wat nie ʼn voltydse loopbaan in musiek wil volg nie, het die geleentheid om, as deel van ʼn algemene skolastiese opleiding, Musiek in al sy fasette as ʼn skoolvak te ervaar. Dit is ʼn gulde geleentheid wat in min skole aangebied word. Leerlinge wat wel musiek as loopbaan oorweeg, word hier deeglik voorberei vir hulle musiekstudies.
Leerlinge wat klavier of enige ander instrument as instrument wil neem, moet ʼn instrument tuis beskikbaar hê om daagliks op te oefen.
Musiek as matriekvak word hoog geag wanneer aansoek gedoen word by tersiêre instellings, selfs as loopbaanrigtings soos medies of ingenieurswese oorweeg word. Dit is wyd bekend onder universiteitsakademici dat musiek as vak selfdissipline en selfmotivering kweek.
Musiek as vak bestaan uit drie komponente nl. Musiekteorie, musiekkennis en -leer en praktiese musiek. Elke komponent tel ‘n derde van jou finale punt. Assesserings bestaan uit geskrewe take en praktiese uitvoerings.
INSTRUMENTE VIR PRAKTIESE VOORDRAG
Klavier, sang, kitaar (akoesties en elektries), blokfluit, tromstel. Ons bied nie “keyboard” aan nie.
Koperblasers: Franse horing, skuiftrompet, tuba, trompet.
Houtblasers: Dwarsfluit, klarinet, hobo, fagot, saksofoon.
Strykers: Viool, altviool, tjello, kontrabas.
Onderrig in praktiese voordrag vind individueel tydens skoolure en na skool plaas, en instrument-spesialiste wat geakkrediteerde musiekonderwysers is, word waar nodig, deeltyds gebruik.
Deelname aan eisteddfods en kunswedstryde word aangemoedig en ondersteun.
Beroepsmoontlikhede:
NAVRAAG: Departementshoof Musiek: Me. L. van Zijl: l.vanzijl@hscenturion.co.za