ROBOTIKA

 

Robotika is die studie van robotte en handel oor die ontwerp, konstruksie, werking en gebruik van robotte om spesifieke take te verrig. Leerders word aangemoedig om probleme op te los, terwyl hulle ervarings verbind word met voorbeelde uit die werklike wêreld. Hierdie vak is die middelpunt tussen rekenaarvakke soos Inligtingstegnologie, Rekenaartoepassingstegnologie, asook tegniese vakke soos Elektriese en Meganiese Tegnologie, wat ook by ons skool aangebied word.

Leerders wat belangstel in ingenieurswese, wetenskap en wiskunde sal baie van hierdie vak hou. Leerders word geleer om hul eie robot te ontwerp, te bou en dan programmeringsfunksies met hul robot uit te voer. Boonop leer hulle teorie oor Robotika wat hul belangstelling in hierdie veld nog verder laat toeneem.

 

Robotika word as ʼn addisionele vak, wat nog nie as ‘n KABV-vak deur die Departement van Onderwys gereken word nie, aangebied. Die beplanning is egter om Robotika nasionaal as ‘n amptelike KABV-vak binne die volgende vyf tot tien jaar in te faseer. Robotika as vak tel nie vir ʼn leerder se rapportgemiddeld nie, maar dit verskyn wel op die rapport en leerders ontvang ‘n sertifikaat met voltooiing van die kursus.

Die Robotika-kurrikulum is gebaseer op temagebaseerde uitdagings om leerders te betrek by navorsing, probleemoplossing, kodering en ingenieurswese. As gevolg van die leerders se blootstelling aan hierdie vak ontwikkel hulle meer selfvertroue, raak entoesiasties en word toegerus met vaardighede wat hulle in ‘n veranderende arbeidsmag benodig.


Die Robotika-kurrikulum duur een jaar lank, met ʼn klas een keer n week, van 1½ tot 2 ure lank. Die Robotika-kurrikulum volg ʼn KABV-benadering tot assessering. Hoërskool Centurion kan u met trots verseker dat ons Robotika-kurrikulum meer gevorderd as die meeste staatskole is. Die Robotika-kurrikulum word deur mnr. A. van Mazyk en Resolute Robotics (https://resoluteeducation.com/), in konsultasie met ander kenners in die robotikaveld, aangebied en opgestel. Hierdie kurrikulum word deur meer as tweehonderd privaatskole landswyd aangebied.


Ons bied ook in 2023 vir alle graad 8’s in skooltyd Robotika as vak aan. Graad 9 tot 12 loop klas na skool.  Die beplanning in die toekoms is om vir alle leerders in skooltyd Robotika aan te bied. Elke graadgroep volg hul eie, unieke kursus met die leerinhoud wat op mekaar bou. Elke kursus het ook ‘n inleidingsfase wat leerders aan Robotika bekendstel. Elke kursus begin met basiese konsepte en bou na meer ingewikkelde konsepte. Leerders het ook hul eie aanlyn platform waarop hul vordering gemeet kan word, klasvideo’s gekyk en praktiese asook teoretiese opdragte uitgevoer word.


Sewe redes om Robotika te neem:

1.    Dit is leerdergeoriënteerd en bied aan elke leerder die geleentheid om hul vaardighede teen hul eie tempo te ontwikkel. Die leerders neem beheer oor hul eie vordering.

2.    Dit ontwikkel veerkragtigheid en die vermoë om sukses te behaal nadat jy ‘n fout gemaak het; om weer te probeer tot die doel bereik word.

3.    Robotika en kodering ontwikkel logiese denke, met inagneming van wiskundige en wetenskaplike konsepte. Robotika skep samewerking en sosiale vaardighede.

4.    Koderingsvaardighede is hoog in aanvraag. Hierdie vaardighede ontwikkel onderhandelings- en redenasievaardighede.

5.    Programmering is die toekoms. Dit ontwikkel hoë vaardigheid-leerders vir hoë vaardigheid-loopbane. Kodering en robotika ontwikkel kreatiewe en kritiese denkvaardighede.

6.    Dit is ‘n prettige, interaktiewe manier om probleme op te los en boonop bevorder dit leer.

7.    Dit skep ‘n omgewing vir leerders om logiese volgorde-vaardighede, sowel as leierskap te ontwikkel om die vloei van ‘n projek te verstaan.

As jy in Robotika belangstel, is die Woerie-kampus die plek vir jou!


NAVRAAG:  Die Vakonderwyser: Mnr. A. van Mazyk: a.vmazyk@hscenturion.co.za