Banner (1)

2 Augustus 2019

Belangrike datums
Maandag: 5 Augustus, Dag 2 - Kwartaaltoets 5 | Sagtebal eerste span teen Hartbeespoort (Tuis) | Sagtebal B-spanne teen Sutherland High (Tuis)
Dinsdag: 6 Augustus, Dag 3 - Portefeuljetoets 15
Woensdag: 7 Augustus, Dag 4 - Landloopliga 4 by Uitsig | Krieket 1C teen Wonderboom (Weg)
Donderdag: 8 Augustus, Dag 5 - Kwartaaltoets 6
Vrydag: 9 Augustus - Vakansiedag | Krieket o/14 en o/15 A-spanne teen Marais Viljoen (Tuis)
Saterdag: 10 Augustus - Krieket 1A teen Marais Viljoen (Tuis)
AKADEMIE

2020 Gr. 10-Vakkeusevorms


Geagte graad 9-ouers

Let asseblief dat die proses vanjaar om vakkeuses vir die graad 10’s van 2020 uit te oefen, digitaal gedoen gaan word om die proses met groter effektiwiteit en gemak te kan voltooi.

Ouers kan gerus die volgende skakel volg om die vakkeusevorm te bekom en ons vra asb. dat die vorm volledig ingevul en ingestuur sal word teen 16 Augustus 2019.
Indien u enige verdere navrae rondom die vakkeusevorm of uitoefening van keuses het, is u welkom om die volgende kontakpersone te skakel:

Me. C. Badenhorst (Mentor): christa@educationalpsych.co.za
Me. N. Esterhuizen (Graadhoof): nicolette@hscenturion.co.za
Mnr. J. de Bruyn (Graadhoof): johand@hscenturion.co.za
Mnr. M. Coetzee (It-hulp): marco@hscenturion.co.za

Wiskunde ekstra klasse


WISKUNDE: BESKIKBARE TYE VIR HULP
Let wel: oggendklasse moet vooraf bespreek word op ‘n lys by die betrokke onderwyser se klas.

Graad 8: Me. E. Bekker
Maandae: 15h30 - 16h15
Dinsdae: 06h30 - 07h15

Graad 9: Me. I. Ligthelm
Woensdae: 14h15 - 15h15
Vrydae: 06h30 - 07h15

Graad 10: Me. S. van Rooyen (K12)
Dinsdae: 06h30 - 07h30
Dinsdae: 14h00 – 15h00
Graad 11: Me. I. Jacobs (K6)
Dinsdae: 15h30 - 16h15
Dinsdae: 06h30 - 07h15

Graad 12: Me. P.J. King (K16)
Dinsdae: 06h30 - 07h30
Dinsdae: 14h00 – 15h00
SPORT
Krieket

Krieket voorseisoen wedstryd

Verlede Saterdag het die eerste krieketspan ‘n opwarmingswedstryd teen die Northerns 0/19 oefengroep gespeel. Ons het die loot gewen en besluit om ‘n telling op die bord te sit wat ons kon verdedig.

Alhoewel die toporde redelik gesukkel het om aan die gang te kom, het die middelorde hul stem dik gemaak en die bal grens toe gejaag met gereelde reëlmaat. Conrad Mouton (61) en Charl van den Heever (60) het seker gemaak dat ons by die 250-lopie merk verbygaan.

Die boulers het almal hul bydrae gelewer en gehelp toesien dat die opponente vir ‘n skamele 111 uitgeboender is, met slegs een kolwer wat 36 lopies kon bydra. Conrad Mouton het met sy spoed beïndruk en die eerste twee kolwers laat terugstap kleedkamer toe.
Conrad Mouton
Nathan Fox se akkuraatheid het hom beloon met 1/8 in 4 beurte. Met Michael Salomon se 2/17, bygestaan deur die hotklou-aflewerings van Joubert Eybers (2/9) het ons die grootste skade daarna uitgerig gekry.

Eerskomende naweek vind die tradisionele oud-skoliere wedstryde plaas. Vrydagmiddag speel twee oumanspanne teen mekaar in ‘n T20, waarna ‘n uiters gedugte span die eerste span Saterdag die stryd aansê in ‘n 50-beurt wedstryd.
Landloop

Landloop by Sutherland

Verlede Woensdag het ons Woeries by Sutherland hulle liga gehardloop en ons senior seuns en dogters het algeheel 5de geëindig - een posisie beter as verlede week.

Ons dogters bly algeheel in die 8ste plek en ons seuns verbeter na algeheel 6de waarmee hulle kwalifiseer vir die Noordvaal finaal.

Jana van der Merwe eindig weer 2de van die dogters o/18 met Gareth Smith as ons top senior seun.



Fotokrediet: Gerrit van der Linde
G. Smith
Bergfietsry

Bergfiets by Voortrekkermonument

Die afgelope naweek het die 2de bergfietsliga by die Voortrekkermonument plaasgevind. Meer as 600 ryers van 38 skole het deelgeneem.

Die volgende ryers het puik presteer:
Junior Women - Esmarie dan der Merwe, 20ste plek
Junior Boys 15 - Ruben Beukes, 10de plek
- Gideon van Niekerk, 11de plek
- Wian Loots, 20ste plek

Ons wil graag baie geluk aan hierdie Woeries sê met hulle wonderlike prestasies!

Fotokrediet: Melanie Langner
G. van Niekerk
Sagtebal

Sagtebal teen HS Hartbeespoort en HS Zwartkop

Vrydag, 26 Julie, met die eerste tuis ligawedstryd van die seisoen, het die Woeries weer uitstekend presteer.

Sagtebaluitslae teen Harties:
O/14A wen 12-0
O/15A wen 5-3
0/16A verloor 2-4
Sagtebaluitslae teen Zwartkop:
0/14B wen 19 - 0
O/15B wen 17-1
O/16 B wen 13-1
2des wen 24-1
Daar was oorweldigende ondersteuning van ons ouers en die gemeenskap en die leerders het dit baie geniet, dit is wat die verskil maak aan Woerie-sagtebal. Tot en met die laaste gooi was die pawiljoen vol ondersteuners. Dankie aan elkeen en hou so aan!

Datumveranderings:
5 Aug: 1ste span teen Hartbeespoort en B-spanne teen Sutherland (Tuis)
13 Aug: A-spanne teen Pretoria-Noord (Tuis)

Fotokrediet: Magda van der Zwan
J. van Doorene (1)
boogskiet

NASP Interskool Boogskiet Kompetisie


Van ons Woeries het 27 Julie te Raslouw aan die NASP Interskool boogskiet kompetisie deelgeneem en het puik presteer, ons wil hulle graag gelukwens met hulle prestasies!

Hoërskool dogters - Marichelle 10de, Fielde 14de, Maristelle 23ste en Bianca 25ste.
Seuns - Luc 18de en Christiaan 27ste.

Hierdie Saterdag (3 Augustus) neem ons Woeries aan die Gauteng-Noord proewe deel.

Ons wil net graag aan hulle sterkte toewens!
M. Welgens, B. Kruger, M. Botha, C. Grundling, F. Kruger, L. Muller (1)
KULTUUR
Toneel

Eldo-toneelfees

“Walter Wie en die Weggooikinders” en “Gewond” presteer puik

Ons skool se twee toneelstukke (Die avonture van Walter Wie en die weggooikinders en Gewond) het die afgelope week skoonskip by die Eldotoneelfees by Hoërskool Eldoraigne gemaak.

Die twee groepe het Donderdagaand (25 Julie) opgetree en besonder goed presteer. Die toneelstuk Gewond het die volgende toekennings gekry: Elani Botha, Karli Snyman, Delia Cloete en Clara Janse van Rensburg het almal brons vir hul spel ontvang. Carla Strauss het brons ontvang vir klank en Larisa Steele ook brons vir beligting ontvang. Die vehoogbestuurder, Anica Vos, het ook brons ontvang asook juffrou Leané Jordaan vir regie.

Die avonture van Walter Wie en die Weggooikinders het ook uitstekend gevaar. Luan Jacobs en Johan Riekert het ‘n brons sertifikaat ontvang vir die teks. Juf. M. Parsons en juf. M. Van der Merwe het ook brons ontvang vir regie. Paul Strydom het brons ontvang vir spel en Zoë Muller silwer. Larissa Steele het silwer ontvang vir klank en Mauritz Ferreira silwer vir beligting. Die verhoogbestuurder, Danielle Booysen, het ‘n goue sertifikaat ontvang.

Walter Wie is uit 28 toneelstukke gekies om Saterdag, 28 Julie, as deel van die top 6 produksies op te tree. Tydens die geleentheid is Zoë Muller ook aangewys as die beste aktrise van die week.

Baie geluk aan al ons leerders wat ons skool se naam so hoog gehou het. Ons is baie trots op julle!!
Walter Wie en die Weggooikinders (1)
Koor

Ons koor by die Eldo-koorfees


Die skoolkoor het die wonderlike voorreg gehad om Maandag, 29 Julie 2019, saam met ses ander kore by die Eldo-koorfees te kon optree. Onder leiding van mnr. Anton Pottas het die koor die gehoor met hul skitterende koorsang vermaak.

Die komposisies wat voorgedra is, was Jesu Pageme, Santos en Genoeg is Genoeg. Die hoogtepunt van die aand was dat al die koorlede van al die verskillende kore in ‘n massakoor, Let the river run van Carly Simon, kon uitvoer.

Baie dankie aan elke Woerie-koorlid wat hul uitstekend van hul taak gekwyt het en onberispelik opgetree het. Jul is beslis deur die breër gemeenskap raakgesien en raakgehoor!

Die volgende optrede van die Hoërskool Centurion skoolkoor is 24 Augustus 2019 tydens die Centurion Kunstefees.
Koor (1)

Fotografieklub

Die fotografieklub spog met pragtige foto’s.

Julie-maand was ‘n besonderse maand vir die fotografieklub. Mnr. Leon Jansen van Vuuren het met hulle gaan praat oor hoe om voëls af te neem en hulle almal aangespoor om voëlkykers en voëlfotograwe te word.

Hulle het ook 'n kompetisieaand gehad met die tema “Herfs”. Die beoordeelaar was Adéle Durandt van Open Lence fotografieklub. Die temawenner was Niël Langner met die foto "Herfsboom" en die algehele wenner was Dylan Coetzee met die foto Lakeside reflection. Twee kinders staan die kans om aan die einde van die jaar ‘n kamera te wen.
Herfsboom - Niël Langner (1)
sosiaal

Woerie-Kampusdag


Om al ons leerders steeds die geleentheid te bied om deel te wees van Kampusdag, wil ons graag ‘n spesiale vergunning maak dat leerders wel vir die volgende week nog enige Hoërskool Centurion hemp mag aantrek. Dit mag slegs hempde wees met die skool se embleem op, bv. die revue-hemp of sporthempde wat op toere ens. gebruik word.

Vanaf Vrydag, 16 Augustus 2019, sal die volledige kampusdrag in werking wees en indien leerders nie aan die volledige voorskrifte kan voldoen nie, moet hul netjiese skooldrag aantrek.

Kampusdagvoorskrifte:
1. Leerders mag slegs die amptelike Woerie-gholfhemp, soos by School Depot te koop, aantrek.
2. Indien dit koud is, mag leerders die amptelike sportbaadjie (reënbaadjie) ook aantrek.
3. Leerders moet blou, netjiese lang denims aantrek. Die denims mag glad nie gate, patrone ens. bevat nie. Geen ander kleur denims sal toegelaat word nie.
4. Leerders moet netjiese toe tekkies aantrek.
5. Amptelike skoolreëls rondom voorkoms soos in die dissiplinestelsel uiteengesit, geld ook vir Woerie-Kampusdag.

School Depot bied die derde kwartaal die Woerie-gholfhemp teen ‘n spesiale aanbod aan. Hulle het reeds nuwe voorraad ingekry en die Woerie-gholfhemp asook die sportbaadjie is weer op die rakke beskikbaar.

Ons herinner u graag dat die skool elke Vrydag om 13:45 sluit, en dat die snoepie elke Vrydag heerlike Kampus-kombo’s verkoop.
bemarking

Makro en MySchool

Ons wil graag die Woerie-gemeenskap uitnooi om betrokke te raak by die Makro en MySchool inisiatiewe om sodoende ons skool te help om 'n addisionele inkomste vir die skool te genereer. Die inisiatiewe is oopgestel vir die hele gemeenskap. Enige iemand kan MySchool “app” en die Makro “app” aflaai en *Hoërskool Centurion as ‘n begunstigde laai.

Ons deel ook graag die goeie nuus dat MySchool en Makro nou die opsie bied om beide kaarte digitaal te bekom.

https://www.makro.co.za/m-educ8
https://www.myschool.co.za/get-your-card-here/myschool-app

Saam kan ons 'n groot verskil vir die skool maak, dankie vir u samewerking! Vir enige verdere navrae rondom die inisiatiewe is u welkom om vir me. K. Roux te kontak by bemarking@hscenturion.co.za
advertensies
Polsslag Voortrekkers
Kampusdag
resies
Makro Stappe
Netbalafsluiting
art-banderitas-birthday-2337787
facebook youtube instagram website