WOERIE_KAMPUS

Beste Amper-Woerie-Ouers

Hiermee die laaste paar interessante feite oor Hoërskool Centurion, wat u dalk nie geweet het nie!

Nuwe baadjie: Die Woerie-kampus het in 2018 ontstaan en die skool het intussen ‘n nuwe baadjie aangetrek en spog met ‘n nuwe korporatiewe identiteit.

Woerie-Mediahuis: Hoërskool Centurion is een van die eerste skole in Suid Afrika wat ‘n mediahuis het wat deur leerders gedryf word.

Gertjie Deysel: Wie is Gertjie Deysel? Niemand weet nie, dit is ‘n legende wat jaar na jaar oorgedra word en daar het al verskeie teorieë ontstaan oor wie hy was en wat met hom gebeur het. Sy naam verskyn nog elke jaar op ‘n personeellid se klaslys.

GDO aanlynregistrasies 2020

Ouers, neem asseblief kennis dat die webwerf op Maandag, 20 Mei 2019, om 08:00 open. (www.gdeadmissions.gov.za)

Rekenaarfasiliteite sal by die skool beskikbaar wees indien u sou belangstel. Meld asseblief enige tyd vanaf 07:45 - 14:00 by die voorportaal aan. Parkering sal op die skoolterrein beskikbaar wees.

Ons wil u graag aanmoedig om asseblief indien u nog nie het nie, u inskrywingsvorm saam met die nodige dokumentasie in te handig, dit sal regtig help om die proses te vergemaklik.

Hiermee die lys van nodige dokumente:
- Geboortesertifikaat
- Laaste Rapport (Gr. 7)
- Albei ouers se ID afskrifte
- Bewys van adres
- Indien relevant, die bewys van aanneming/voogskap of bewys van werkadres

FEDSAS gee verder woord


Dit is vir ons aangenaam om te rapporteer dat FEDSAS op 15 Mei 2019 die aanlynstelsel vir toelatings namens ons lede getoets het. Ons kan verder verslag doen dat die stelsel op grond van ons insette ‘n groot omwenteling beleef het wat eerstens bevestig dat die GDO saamstem met sekere van die gebreke wat ons vroeër aangemeld het. Dit is as gevolg van ons interaksie met die GDO dat daar met GDO ooreengekom is dat die aanvangsdatum vir die proses met een week uitgestel is en nou op 20 Mei 2019 voortgaan.

Die verandering aan die stelsel en die resultate van ons toets het ons oortuig dat die stelsel gereed is om wel op 20 Mei om 08:00 voort te gaan. Ouers word aangemoedig om die stelsel te gebruik. Ouers moet asb voor die aanvang van die aansoekproses die webblad www.gdeadmissions.gov.za besoek en die “Step-by-Step” gids bestudeer.

Die sterkste kategorie vir aansoek is die huisadres. Met die eerste aansoek vir huisadres sal ‘n kaart verskyn wat al die voedingsareas waarbinne ‘n gekose adres val, reflekteer sowel as ‘n lys met al daardie skole se name en die afstand vanaf die adres. Alle aansoeke op grond van hierdie basis sal ‘n WA1 nommer verkry. Dit is belangrik vir ouers om kennis te neem dat hulle ‘n maksimum van vyf aansoeke in totaal mag indien en dat enige kategorie (woon-, werks- en sibbe) meermale gebruik kan word. Dit is dus mees voordelig om meervuldige aansoeke op grond van huisadres te doen. Die keuse van 5 skole maak dit moontlik vir ouers om die voorkeurskool te kies met inbegrip van onderrigtaal en/of enkelgeslagskool, mits die adres in die skool se voedingsarea val.

In opsomming:
- Die stelsel gaan Maandag om 08:00 lewendig (geen toets vooraf)
- Ouers moet vooraf die video en gids bestudeer
- Doen vroeg aansoek en hou skermskote van moontlike probleme en/of foute
- Alle skole met voedingsareas wat die adres dek, gaan met eerste huisadres-aansoek gelys word
- Meervuldige aansoeke kan op enige kategorie gedoen word (Maks 5)
- Die sterkste kategorie is huisadres
- Ander kategorie is: sibbe (WA2), werksadres (WA3), enige skool in 30 km radius (WA4), fokus-/spesialiteitskool (WA5) en buite 30km radius (WB)
- Onthou en bewaar jou gebruikersnaam en wagwoord - dit sal ook na die registrasieselfoonnommer per SMS gestuur word
- Lewer dokumente aan skool/e waar aansoek gedoen is binne 7 dae
- Hou oor die naweek die FEDSAS sosiale media dop vir nuus en inligting.

FEDSAS groete.

Ons wens u sterkte toe met u keuse en indien u enige verdere navrae het, is u welkom om vir Marco by registrasie@hscenturion.co.za of 012 664 5803 te kontak.


Ouers video
facebook youtube instagram website