maxinuss cover11

6 September 2019

Belangrike datums
Maandag: 9 September, Dag 2 - Krieket 14A teen Waterkloof (Tuis) | Krieket 1A teen PBHS (Weg) | Krieket 2A teen Menlopark (Weg)
Dinsdag: 10 September, Dag 3 - Krieket 14A teen Waterkloof (Tuis) | Krieket 1A teen PBHS (Weg)
Woensdag: 11 September, Dag 4 - Krieket 15A teen Waterkloof (Tuis) | Sagtebal B-spanne teen Eldoraigne (Tuis)
Donderdag: 12 September, Dag 5 - Krieket 15A teen Waterkloof (Tuis) | Krieket 15B teen Zwartkop (Weg)
Vrydag: 13 September, Dag 6 - Atletiek teen Eldoraigne | Krieket 1D teen Menlopark (Weg)
Saterdag: 14 September - Kampusdag | Sagtebal A-spanne uitspele | Krieket 1B teen Paarl Boys High (Tuis) | Krieket 1C teen Montana (Weg)
SPORT
Krieket

Die Krieket manne staan sterk

Die eerste krieketspan het verlede Saterdag die onderspit gedelf teen Garsfontein, nadat ons kolfwerk ons weereens in die steek gelaat het. Die boulers het die oggend gesorg dat ons slegs 216 lopies vir ‘n moontlike oorwinning moes aanteken en met die openingsvennootskap van 55 lopies, het dit inderdaad gelyk asof dit behoort te gebeur. Ongelukkig het ons daarna al 10 paaltjies verloor en is uitgeboender vir 121 lopies.

Die Ibbies was vroeg in die moeilikheid teen Garsfontein se tweede span, maar het wonderbaarlik herstel, danksy ‘n terugvegpoging van die laer orde. Ryno Kruger se 56, saam met Cameron Ulloa se vyftigtal en Righardt Naude se 49, het die Ibbies gehelp om 285 aan te teken, waarna hulle hul opponente vir 210 uitgehaal het en met ‘n bonuspunt weggestap het.

Die 1C-span het skitterend teen AHS se derde span gekolf en ‘n sprankelbeurt deur Juan Oosthuizen (118) het verseker dat hulle kon saamgesels tot die einde in die spannende wedstryd. Ongelukkig het ons ‘n paar lopies kortgekom van ‘n briljante wen.

Terselfdertyd het ons 1D-span teen hul eweknie van AHS kragte gemeet en is vir 210 uitgeboul. Divan van Tonder het ‘n waardevolle 80 aangeteken. Danksy vyf paaltjies deur die belowende jong Mikael Morkel, het ons die wedstryd met 18 lopies gewen.

Die 0/15 A-span het amper die hoogaangeskrewe span van Garsfontein die loef afgesteek. Ongelukkig het ons slegs sowat 14 lopies kortgekom daarvan.
N. Fox & M. Salomon
Sagtebal

Sagtebaldogters weer onoorwonne

Die sagtebaldogters het weer tydens hul afgelope wedstryde almal met hulle ongelooflike gees en sportmanskap beïndruk. Die dogters het hulle harte uitgespeel en elkeen het weereens bewys hoekom ons sagtebal tops is. Deur die loop van die naweek is daar in totaal agt wedstryde gespeel en ons dogters het al agt wedstryde gewen. Vier van die wedstryde was teen HS Garsfontein en die ander vier wedstryde teen HS Montana.

Ons is trots op elke liewe dogter asook elke afrigter wat betrokke was!
Die uitslae is as volg:
Garsfontein:
O/14 B wen 14-8
O/15 B wen 11-4
O/16 B wen 12-9
O/19 B wen 24-0
Montana:
O/16 A wen 14-0
O/15 A wen 5-2
O/14 A wen 8-2
O/19 A wen 14-1
Fotokrediet: GB Jordaan
o19B Span
Bergfietsry

Woerie-bergfiets presteer

Die afgelope naweek het die vierde bergfietsliga by Buffulsdrift Bike Park plaasgevind. Die roete wat 5,5km lank was, moes deur die meisies drie tot vier keer herhaal word en deur die seuns drie tot vyf keer.

Die volgende ryers het puik presteer:

Junior Dames:
Esmarie van der Merwe, 17de plek

Junior Seuns 15:
Wian Loots, 15de plek
Gideon van Niekerk, 16de plek
Ruben Beukes, 19de plek

Beste ontwikkeling van liga 1 tot liga 4 was:
Zandré Strydom wat van ‘n 77ste plek by liga 1 tot ‘n 28ste plek by liga 4 gestyg het.

Die afgelope liga was ongelukkig die laaste liga van die jaar, maar ons sien uit om met voorbereiding vir die komende seisoen te begin. ‘n Spesiale dank aan ons borg, FAK, vir hulle groot finansiële bydrae tot Hoërskool Centurion se bergfiets.

Ons sê ook graag baie dankie aan elke ouer se opoffering om betrokke of teenwoordig te wees by elke liga.
Bergfiets-span
Robotika

Die vierde industriële rewolusie


Die vierde industriële rewolusie verteenwoordig 'n fundamentele verandering in die manier waarop ons leef, werk en met mekaar omgaan. Dit is 'n nuwe hoofstuk in menslike ontwikkeling wat buitengewone vooruitgang in die tegnologie moontlik maak. Op 7 September tree Hoërskool Centurion in ons eie vierde industriële rewolusie deur ʼn Robotika-dag.

Hierdie Afrimat Robotika-dag is om ons hoof Robotika-borg te vier. Afrimat het aan ons skool 4 EV3 robotte geskenk waarvoor ons as skool baie dankbaar is. Op 7 September word die Robotika-leerders in groepe verdeel waar hulle teen mekaar in verskillende programmering-en robotboukompetisies gaan deelneem. Daar is groot pryse op die spel. Die beste span wen elkeen ʼn kursus van Solidworks.

Hierdie dag begin om 7:00 die oggend vir die leerders en eindig om 16:00. Diegene wat in robotte en tegniese innovasie belangstel, is welkom om enige tyd deur die loop van die dag by ons te kom inloer. Enige vrae rondom Robotika, kodering en kompetisies kan deur mnr. A. van Mazyk of enige van die Robotika-leerders beantwoord word. Ons hoop om jou daar te sien.
G. du Preez
KULTUUR
Koor

Kooruitvoering in Nazareth House


Op Dinsdag, 3 September 2019 het die Skoolkoor van Hoërskool Centurion en die Seniorkoor van Laerskool Swartkop hande gevat en ‘n wonderlike kooruitvoering in Nazareth House, Nieu Muckleneuk, Pretoria vir ‘n uitgelese gehoor gelewer.

Die twee koorleiers, mnr. Anton Pottas (Hoërskool Centurion) en me. Bea Viljoen (Swartkop Laerskool) het ongelooflike musiek saam met elke entoesiastiese koorlid geproduseer. Dit was ook ‘n groot voorreg dat die Els-tweeling by hierdie besonderse kooraand as soliste kon optree.

Die konsertgangers het elke noot ingedrink en verryk die kapel uitgestap.
Baie dankie aan elke Woerie-koorlid wat skitterend gesing en gelyk het. Julle maak ons ontsettend trots.
HSC en Swartkop Laer (1)
Marimbas

A++ vir Marimbas


Baie geluk aan ons senior-ensemble: Johan Piek; Elaine van den Berg; Melissa-May Webster en Bernard Webster.
Veels geluk ook aan die junior-ensemble: Anke Amsenga, Natasha Kotzé, Annabelle Rademan en Stefan-Mauritz Swanepoel

Die senior- en junior marimba-ensemblegroepe het uitstekend presteer tydens hulle deelname aan Centurion Kunstefees. Albei groepe het ‘n A++ simbool verwerf waarop ons skool baie trots is. Dit was drie van die vier matrikulante in die seniorgroep se laaste optrede van hul hoërskoollopbaan en ons gaan hulle beslis baie mis.

Baie geluk aan me. E. Nöthling en haar span met die uitsekende prestasies!
Marimbas
Cleopatra

Leer ons Cleopatra-wenners ken

Die nuut aangewysde Cleopatra wenners gaan in die toekoms by aktiwiteite wat die skool aanbied, betrokke wees. Die Woerie-mediahuis het dit goed gedink om ons Cleopatra wenners beter te leer ken, dus het ons vir elkeen van hulle vyf vrae deurgestuur om te beantwoord. Hierdie week begin ons met ons tweede prins, Lefa Mtshweni.

(V) Hoe voel dit om die tweede prins te wees?(A)Om eerlik te wees, voel dit nogal goed om die tweede prins te wees omdat ek ander kinders wat bang is, gewys het om aan hierdie tipe kompetisies deel te neem en dat hulle dit ook kan doen. Dit gaan nie oor gewildheid of oor hoe mooi jy is nie. Dit gaan net oor die mens wie jy is en om altyd jouself te wees.
LEFA
(V) Wat sal jy sê, het gelei tot jou sukses met Cleopatra 2019?
(A) Dit was die ondersteuning wat ek by my mede-Woeries gekry het. Hulle het my in my laagste oomblikke ondersteun en bygestaan. Hulle het in my geglo wanneer ek nie in myself geglo het nie.

(V) Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jou naam as Tweede Prins gelees word?
(A) Dankie Vader, ek het my doelwit bereik. Ek het die fondasie vir dit wat na my kant toe kom, gelê en gewys dat jy dit kan doen deur net jouself te wees.

(V) Het jy dit verwag om as Tweede Prins aangekondig te word?
(A) Ek het nie verwag dat my naam gelees gaan word nie. Daar was sterk kompetisie.

(V)Wat van Cleopatra was vir jou die hoogtepunt?
(A)My gunsteling oomblik was toe al 20 finaliste op die loopplank was, want ons almal is wenners. Daar is baie kinders wat in ons posisie wou wees. Ons het die fondasie gelê vir die volgende finaliste wat ná ons kom en gewys hoe dit gedoen word en hulle gemotiveer om deel te neem.

Fotografieklub “Monochroom” kompetisie

Die fotografieklub het Donderdag, 29 Augustus, hulle kompetisie-aand gehad. Die tema vir die maand was monochroom en die temawenner is Simoné du Preez met haar foto, “When it fits, it sits”. Die algehele wenner was Merie Langner van Laerskool Louis Leipoldt met haar foto “Goue blare”. Twee leerders kan aan die einde van die jaar ‘n kamera wen.
If it fits it sits Simoné
Buitemuurs

Woerie-hokkieseuns gee gas by binnehuise hokkietoernooi

Twee oud-Woeries, Peet Potgieter en Hudson Janse van Rensburg, en vyf huidige –Woeries, Julius Krahtz, Divan Grundlingh, Marco Botha, Shawn Dames en Heiko Piepmeyer het aan die IPT 2019 binnehuise-hokkie toernooi in die Sentraal-Gautengspan deelgeneem. Die toernooi het 7-10 Augustus in Meyersdal plaasgevind. Ons seunsspan het aan die einde van die toernooi met die skildtrofee weggestap.

Ons is baie trots op elkeen van hierdie seuns en sien uit na wat die toekoms vir hulle inhou!

Afwesig in foto: Divan Grundlingh
Woeries & Oud-Woeries

Rugbymanne presteer

Vier van ons rugbyseuns, Jonathan Vorster, Juandre Combrinck, Cian Spies en Vian Myburgh, het presteer en is vir die Future Bulls-span gekies wat 29 Desember in Amerika, Irvine California, aan die Wêreldjeug Rugbyfees gaan deelneem.

Ons is baie trots op ons rugbymanne!
Rugby
Ware woerie ouers

Fondsinsamelings

Ons het vanjaar ons eerste fondsinsameling met groot sukses afgeskop! Baie dankie aan elke persoon wat die Mandjiedans ondersteun het! Ons bedank ook graag vir Anette van Niekerk (WWO-Voorsitter) en haar span wat dit moontlik gemaak het! ‘n Groot dank ook aan Danie Steele vir al sy moeite en ondersteuning en die heerlike atmosfeer wat deur puik musiek en beligting geskep is.

Ons wil u graag aanmoedig om solank die datum,12 Oktober, in u dagboek te merk. Die WWO gaan ‘n tweede fondsinsameling ten bate van die skool by die Rockwood Theatre hou. Die optrede se tema is "A Tribute to Neil Diamond and Friends". Kom geniet 'n heerlike aand saam met ons teen slegs R150!

Kaartjies is by registerpersoneel beskikbaar.
rockwood_wwo_FB_ad_2019
bemarking

MySchool Sms Inisiatief


Ons nooi graag die gemeenskap uit om die skool met hierdie ongelooflike inisiatief te ondersteun! MySchool het nou ook ‘n sms-sisteem in werking om die aansluitingsproses te vergemaklik. Volg gerus die instruksies soos aangedui:

SMS die woord "JOIN" en "Hoërskool Centurion" na 31231 (gratis SMS)

Hoe meer ondersteuners ons kry, hoe meer fondse kan ons vir die verbetering van ons skool insamel.
Get_more_supporters_Instagram_Post
alumni

Nuwe hoogtes vir hierdie oud-Woerie

JD Heyns, 'n oud-Woerie en seun van personeellid, me. R. Heyns, het in 2018 sy B.Ing (Mech) graad by die Universiteit van Pretoria met lof voltooi.
Daarna is JD ‘n nagraadse beurs deur die Franse Regering aangebied om sy doktorale studies in Meganiese Ingenieurswese vir die volgende 3 jaar by die Georgia Institute of Technology in Lorraine Metz, Frankryk te voltooi.

Kortliks behels die studies die volgende: Die ontwerp van 'n masjien wat lae amplitude ultrasoniese golwe gebruik om water te suiwer.Dit sal die energiekoste om water te suiwer baie verminder. Bestaande watersuiweringsmaniere vereis baie energie of die gebruik van chemikalieë wat nie orals beskikbaar is nie, veral in afgesonderde of arm gebiede.

Hierdie is 'n ongelooflike prestasie en ons wens hom soveel geluk toe met hierdie nuwe hoofstuk van sy lewe!
JD Heyns

Oud-Woerie wys hoe word dit gedoen

Nadia Fourie, ‘n oud-Woerie, het 'n ongelooflike twee weke beleef by Oxford Universiteit, waar sy as beurshouer 'n kursus in rekenaarprogrammering voltooi het.

Sy is aangewys as die beste leerder met 'n 91% gemiddeld en het ook 'n spesiale toekenning gekry vir haar toewyding en deelname tydens die somerskool van die Oxford Royale Academy. Sy het ook haar debat gewen, waar sy moes oortuig dat alternatiewe intelligensie 'n beter opsie vir ruimtevaart is as om menslike ruimtevaarders in te span.

Daarna het sy na Boston gevlieg, waar sy Maandag haar eerste skooldag by die Groton skool begin het.
N. Fourie 2

Oud-Woerie presteer in Krieket

Lauren Agenbag is onlangs op die “Reserve List Umpires Panel” vir die 2019-2020 krieketseisoen gesit. Hierdie aanstelling is 'n groot tree nader aan geslagsgelykheid vir Cricket South Africa (CSA).

Ons is baie trots op wat hierdie oud-leerling van Hoërskool Centurion reeds bereik het en ons glo sy het 'n skitterende toekoms wat voorlê!
L. Agenbag (1)
advertensies
gem-flyer
RUGBY_UITNODIGING2019
Kampusdag
Makro Stappe
facebook youtube instagram website