maxinuss cover11

26 Julie 2019

Belangrike datums
Maandag: 29 Julie Dag 3 – Koorfees | Kwartaaltoets 3
Dinsdag: 30 Julie Dag 4 – Oueraand | Portefeuljetoets 14
Woensdag: 31 Julie Dag 5 – Noordvaal-hokkie (Ligbron Akademie) | Landloop Liga 3 by Prestige College | Krieket 1C teen HS Menlopark (Tuis)
Donderdag: 1 Augustus Dag 6 – Noordvaal-hokkie (Ligbron Akademie)| Cleopatra | Kwartaaltoets 4
Vrydag: 2 Augustus Dag 1 – Kampusdag | Noordvaal-hokkie (Ligbron Akademie)
Saterdag: 3 Augustus – Noordvaal-hokkie (Ligbron Akademie)| Krieket 1c teen Wonderboom (Weg)
Algemeen

Waarnemende Adjunkhoofde

Dit is met groot trots dat ons meedeel dat die volgende twee departementshoofde deur die Departement van Onderwys as waarnemende adjunkhoofde van Hoërskool Centurion aangewys is.

Mnr. M. Voges is al 28 jaar by Hoërskool Centurion betrokke en is ook die afgelope 28 jaar as Departementshoof van die Ekonomiese Bestuurswetenskappe aangestel.
Marius Voges
Mnr. R. Brand is al 24 jaar by Hoërskool Centurion betrokke en is vir die afgelope 18 jaar as Departementshoof van Geografie en Sosiale Wetenskappe aangestel.

Ons bedank graag die twee personeellede vir hul bereidwilligheid om gedurende die aanstellingsproses die vakante Departementsposte vol te staan tot dit gevul is.

Ons wens hulle alle sterkte toe met die take wat hulle moet verrig.
Mnr.-R.-Brand-Rugby-organiseerder-en-Geografie-Departementshoof-

Departementshoof Afrikaans


Hoërskool Centurion wil graag vir me. L. Roux met haar departementele aanstelling as Departementshoof Afrikaans van Hoërskool Centurion gelukwens. Me. Roux is al 30 jaar in die onderwys en het reeds ‘n groot impak gedurende die byna 26 jaar wat sy by die Afrikaansdepartement van die Woeries betrokke is, gemaak.

Me. Roux is uiters bekwaam en goed in haar vakgebied gekwalifiseerd waar sy, onder andere, ‘n BA Hons. Afrikaans (Cum Laude) aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Die personeel en leerders waardeer haar insette ongelooflik, waar sy ook op buitemuurse gebied, onder andere, by die Woer-War, Toneel, Jaarblad, Redenaars en jare gelede selfs Tafeltennis, ‘n groot bydrae gelewer het.

Ons wens graag vir me. Roux baie sterkte toe met die termyn wat voorlê en sien uit om te sien hoe ons leerders in Afrikaans gaan presteer.
Me. L. Roux (Afrikaans Departementshoof en Woer-War Organiseerder)

Hoërskool Centurion Gedragskode

Beste Woerie-ouers. Om Hoërskool Centurion se beeld en waardes ten alle tye op ‘n mooi en positiewe manier uit te beeld, het Hoërskool Centurion ‘n gedragskode uiteengesit waar spesifieke voorskrifte rondom skoolaangeleenthede aangeraak is.

Ons wil graag ons ouers herinner aan die gedragskode wat ten alle tye by tuis aangeleenthede sowel as besoekende skole van toepassing is.

Baie dankie vir u as ouers se wyse waarop u die skool ondersteun en die gedragskode eerbiedig. Saam kan ons ‘n positiewe verskil in die gemeenskap maak.

Oueraand

Dinsdagaand, 30 Julie, vind die Oueraand plaas. Die tye is as volg:
17:30 - Ouers per uitnodiging.
19:00 - Gr. 9 Oueraand - vakkeuses.
19:00 - Gr. 12 Eksamenprosedure inligting.
SPORT
Rugby

Rugby teen HS Lichtenburg


Dit was Saterdag, 20 Julie, baie moeilik teen Lichtenburg. Die groot uitdaging was egter die vroeg opstaan sodat ons om 04:30 met die bus die 3 ure rit na Lictenburg kon onderneem.

Dit het baie swaar gegaan met al ons spanne. Die 0/14 A-span het nou wel 'n moeilike seisoen agter die rug, maar daar is baie goeie vordering met hulle gemaak. Dit is algemeen vir ons 0/14 groep spelers om in hulle eerste jaar van hoërskoolrugby te sukkel, maar statistiek het dit nou maar net oor en oor bewys dat ons spelers ontwikkel en dat hulle die daaropvolgende seisoene BAIE kompeterend is.
JP Jacobs
Die 0/15 A-span kan hulself ongelukkig ag dat hulle nie die wedstryd gewen het nie. Hulle was in beheer van die wedstryd, maar verkeerde besluitneming asook sekere beslissings van die skeidsregter het ons die wedstryd gekos.

Die 0/16 A-span het 'n op en af seisoen beleef en deur beter afronding en wedstryde wat maklik gewen kon word, het dit veroorsaak dat hulle nie vir die uitspele kon kwalifiseer nie.

Die eerste span was, soos gewoonlik, baie kompeterend, maar net om weer in die laaste 5 minute die wedstryd spreekwoordelik weg te gooi. Die seisoen sou soveel anders vir hulle uitgesien het, was dit nie vir verkeerde besluitneming en ook natuurlik beslissings wat nie na hulle kant toe gegaan het nie.

Oor die algemeen was dit 'n baie moeilike seisoen met enorme uitdagings wat voor ons lê. Die aantal seuns wat rugby speel in die skool is kommerwekkend en dit bring uitdagings om B-spanne vol te maak.
Sagtebal

Sagtebal teen HS Wonderboom


Die eerste balle is gegooi en die eerste kolwe is geswaai vir die begin van die sagteballiga en die Woeries het dit op ‘n hoë noot afgeskop.

Die komende ligawedstryde is vandag tuis.
Die O/14-, O/15- en O/16 A-spanne speel teen Hoërskool Hartbeespoort, die 1ste span speel die 5de Augustus teen Hartbeespoort en die B-spanne speel teen Hoërskool Zwartkop. Program sal spoedig volg.

Ons is baie trots op die sagtebaldogters van ons.
Uitslae:

1stes wen 13-1
19B wen 19-0
O/16 A wen 14-7
O/15 A wen 14-7
0/14 A wen 23-0
Fotokrediet: GB Jordaan
Sagtebal (2)

Landloop by Pretoria Boys High


Ons Woeries hardloop dat die stof spat en ons is trots op elkeen van hulle.

Met die tweede liga landloop afgehandel, lê ons dogters algeheel agtste en ons seuns algeheel sewende uit ses en vyftig deelnemende skole. Die seuns en dogters lê gesamentlik in sesde plek. Die beste individuele prestasie was die van Jana van der Merwe wat algeheel tweede in die dogters o/19 afdeling geëindig het.

Ons landloopspan is ook gedurende die week aangekondig en is as volg:

Seuns:
Thinus Jansen van Rensburg (kaptein), Sean Fourie, Gareth Smith, Almero Muller, Armin Pretorius, Aldin van Beest, Griffon van Doorne en Ulrich Putter

Dogters:
Charlene Rybnikar (kaptein), Jana van der Merwe, Kara Durie, Lindie Viljoen, Isabelle van Niekerk, Danell Viljoen, Clarissa Pretorius en Nadia Fourie (afwesig op foto)

Fotokrediet: Gerrit van der Linde
R. Rybnikar (1)
KULTUUR
Cleopatra

Cleopatra Kaartjies


Op 1 Augustus 2019 vind Cleopatra plaas. Ons wil u graag aanmoedig om ons finaliste te kom ondersteun. Kaartjies vir die funksie is teen R130 in me. Heyns se kantoor gedurende pouses beskikbaar.
Cleopatra Advertensie
Revue

Revue DVD

Ouers, ons wil u graag aanmoedig om ‘n revue DVD te bestel om die herinneringe van die ongelooflike produksie wat vanjaar aangebied is vir altyd te kan koester. Die DVD’s is teen R150 by me. Kriek in die finansieskantoor beskikbaar. Neem asseblief kennis dat die bestellings teen 1 Augustus 2019 sluit, so maak seker dat u nie daarop uitmis nie.
Koor

Koor - Eldo-Koorfees

Verlede jaar het ons Woerie-koorspan die voorreg geniet om deel te kon wees van Sing-in-Harmonie en die jaar blyk glad nie asof dit stiller gaan word nie. Hoërskool Eldoraigne het hierdie jaar vir Woerie-kampus gevra om saam te deel in hul koorfees wat op die 29ste Julie 2019 gaan plaasvind.

Ons nooi die gemeenskap hartlik uit om in hierdie aangeleentheid te deel.
Datum : 29 Julie 2019
Plek: Skoolsaal, Hoërskool Eldoraigne
Tyd: 18:00
Koste: R80 per kaartjie.
AKADEMIE
Robotika

Robotika


Afrimat het besluit om op Mandeladag, in samewerking met LEGO, vir die Woeries die geleentheid te bied om robotte te bou en aan 'n interne kompetisie deel te neem. Vier LEGO houers met al die nodige toerusting is aan die Hoërskool Centurion Robotika-span deur die Afrimat-span geborg.

Die amptelike span is aan die skool bekendgestel en ons wens graag die volgende leerders geluk met hul insluiting tot die span (geen spesifieke volgorde nie):
Corné Botha
Annebelle Rademan
Pierre Maritz
Geandré du Preez
MJ Erasmus
Mauritz Ferreira
Alden Erasmus
Anke Amsenga
Wiets Burger
Justin Coetzee
Brandon Gunning
Carl Brandt
Dankie aan Afrimat en die Robotika-span van Waterkloof wat die tyd afgestaan het om die besonderse geleentheid saam met ons te kom geniet.

Ons sien uit om saam met julle aan die nuwe en interessante projek te werk.
WhatsApp Image 2019-07-18 at 12.40.55 PM
sosiaal

Woerie-Kampusdag

Woerie-gholfhempde weer beskikbaar.

Die Beheerliggaam van Hoërskool Centurion het dit goed gedink om die Woeries te beloon vir al hul harde werk en insette wat hulle op die Woerie-Kampus lewer deur Vrydae as Woerie-Kampusdag in te stel. Die Woeries het reeds op Vrydag, 12 Julie 2019 afgeskop met die nuwe inisiatief en het baie positiewe resultate opgelewer. Woeries sal dus die geleentheid gegun word om hulle netjiese Woerie-gholfhemp, lang blou denim en tekkies elke Vrydag aan te trek. Duidelike voorskrifte is uiteengesit om die voorkoms en voorwaardes aan hulle te verduidelik. Daar sal geen kostes verbonde wees aan die dag nie, dit is slegs geleentheid om bietjie gees te vang en hulself ten volle op die Woerie-kampus te geniet. Die skool sal elke Vrydag om 13:45 sluit, die program is so uitgewerk dat geen akademiese tyd verloor word deur die dag nie.

Kampusdagvoorskrifte:
- Leerders mag slegs die amptelike Woerie-gholfhemp, soos by School Depot te koop, aantrek.
- Indien dit koud is, mag leerders die amptelike sportbaadjie (reënbaadjie) ook aantrek.
- Leerders moet blou, netjiese lang denims aantrek. Die denims mag glad nie gate, patrone ens. bevat nie. Geen ander kleur denims sal toegelaat word nie.
- Leerders moet netjiese toe tekkies aantrek.
- Amptelike skoolreëls rondom voorkoms soos in die dissiplinestelsel uiteengesit, geld ook vir Woerie-Kampusdag.

School Depot het die derde kwartaal ‘n spesiale aanbod op die Woerie-gholfhemp. Weens die oorweldigende positiewe reaksie wat ons rakende die Woerie-kampusdag ontvang het, was meeste van School Depot se voorraad in sekere groottes reeds uitverkoop. Hulle het die nuwe voorraad reeds ingekry en die Woerie-gholfhemp is weer op die rakke beskikbaar. Om al ons leerders steeds die geleentheid te bied om deel te wees van Kampusdag, wil ons graag ‘n spesiale vergunning maak dat leerders wel vir die volgende 2 weke enige Hoërskool Centurion hemp mag aantrek. Dit mag slegs hempde wees met die skool se embleem op, bv. die revue-hemp of sporthempde wat op toere ens. gebruik word.

Ons wil u graag aanmoedig om intussen ‘n bestelling vir die Woerie-gholfhemp by School Depot te plaas. U kan gerus vir Heather by accounts@schooldepot.co.za met u kind se naam en grootte e-pos. Dit sal die bestelproses en beskikbaarheid van groottes vergemaklik.

Die snoepie sal ook heerlike Kampus-kombo’s op Vrydae verkoop.

Ons wil u graag bedank vir u positiewe gesindheid en ons sien uit daarna om hierdie opwindende inisiatief aan ons leerders te bied.
Woeriekampus
Buitemuurs

Woerie as Miss Gauteng Schools wenner aangewys


Twee van ons Woeries, Elani Pienaar en Simoné Calitz het die afgelope naweek aan die Miss Gauteng Schools kompetisie deelgeneem. Die kompetisie was ‘n spoggerige affêre, met ‘n ongelooflike atmosfeer.

Die eerste rondte van die kompetisie se tema was “Christmas in July” en die finaliste het uitgehaal en gewys, waar elkeen met hul unieke styl hul eie weergawe van Kersfees uitgebeeld het. Daarna was die formele drag porsie van die kompetisie en beide ons Woeries het in hulle pragtige aandrokke geskitter!

Ons kan met trots sê dat Elani Pienaar die Miss Gauteng Schools titel verower het in die 16-18 jaar ouderdomsgroep en dat Simone Calitz onder die top vyf geëindig het in die ouderdomsgroep van 13-15 jaar.

Ons is trots om hierdie twee pragtige dames Woeries te kan noem!

Kyk uit vir Elani as die voorbladgesig van Bloss Magazine se Februarie 2020 weergawe!
Elani Pienaar

Woeries neem deel aan Boogskiet kompetisies


Die Woeries het gaan boogskiet en het baie goed gevaar, elkeen het sy bes gegee en het die volgende resultate opgelewer:
Kategorie- Hoërskool, Meisies
Fielde Kruger 18de
Maristelle Welgens 20ste
Bianca Kruger 27ste
Kategorie- Hoërskool, seuns
Luc Muller 2de.
Algehele wenner van die dag:
Luc Muller
L. Muller, B. Kruger, F. Kruger, M. Welgens (1)
alumni

Oud Woerie-sagtebalspelers maak ons trots!

Drie van ons oud-Woeries, Marianke van der Merwe, Nicci Grobler en Elri Herman, wat lid is van die SA Vroue Sagtebalspan, het Suid-Afrika by die WBSC Europa/Afrika Olimpiese kwalifiserende wedstryde in Utrecht, Nederland verteenwoordig.

Tydens die kwalifiserende wedstryde is daar twee lande van Afrika (Suid-Afrika en Botswana) en ses lande van Europa wat gaan meeding om een plek op te neem vir deelname aan die Olimpiese spele in Tokio, Japan 2020.

Dit is nie net ons oud-Woeries waarop ons trots is nie, maar ook ‘n huidige Woerie, mnr Paul Prinsloo, (hoofafrigter van die skool se 1ste sagtebalspan) gaan ook SA as tegniese raadgewer van die span verteenwoordig.

Ons wil aan die oud-Woeries en “Coach” Paul baie geluk toewens.
Marianke van der Merwe, Nicci Grobler en Elri Herman, Mnr. Paul Prinsloo (1)

Marcus Karsten, oud-Woerie, ons eie Mr. Global SA

Marcus Karsten, 'n oud-Woerie het beslis sy merk op die wêreldkaart as 'n model op die planke en voor die kamera gemaak. Marcus het al verskeie loopplankwerk in die verlede gedoen en daarna is hy deur Armand du Plessis, voormalige Mnr. Suid-Afrika, genader om vir Mr. World Suid-Afrika in te skryf, waar hy die titel as Mr. Global SA en Mnr. Fotogenies verower het.

Marcus gaan in September vir Suid Afrika by die Mr. Global kompetisie in Bangkok verteenwoordig. Ons wens hom alle sterkte toe met dit wat voorlê.
FB_IMG_1564124843977
bemarking

Makro en MySchool

Ons wil graag die Woerie-gemeenskap uitnooi om betrokke te raak by die Makro en MySchool inisiatiewe om sodoende ons skool te help om 'n addisionele inkomste vir die skool te genereer. Deur die addisionele inkomste sal dit die skool ondersteun om spesifieke projekte van die been af te kry om by te dra tot die beeld en volhoubaarheid van die skool en om vir ons leerders spogfasiliteite aan te bied. Die inisiatiewe is ook oopgestel vir die hele gemeenskap, so u is welkom om vir u kinders, ouers, vriende ens. te vra om ook 'n MySchool vorm in te vul / MySchool “App” en die Makro “App” af te laai en *Hoërskool Centurion as begunstigde te laai.

Makro (M=Educ8)

Neem asseblief kennis dat Makro weggedoen het met die oorspronklike papierstelsel en uitreiking van ‘n Makro plastiekaart soos in die verlede. Makro het onlangs ‘n nuwe en opwindende “App“ aan die publiek bekendgestel. Makro help graag skole deur hulle onderrigprogram, waar skole die geleentheid kry om ‘n % van aankope wat deur die Woerie-gemeenkap aangekoop word, terug aan die skool te betaal. U sal steeds beloon word soos gewoonlik deur die “mRewards” punte vir u aankope gedoen by Makro.

Ons wil u graag aanmoedig om die volgende stappe te volg om meer te leer oor die nuwe program (M=Educ8) en sodoende u profiel op te stel, u kaart digitaal te bekom en u keuse van begunstigde op te stel. Let asseblief dat die ou stelsel NIE meer in werking is nie en indien u reeds Hoërskool Centurion as begunstigde opgestel het, dit nie meer geldig is nie. Let ook dat u slegs een skool of organisasie as begunstigde kan opstel.
Makro Stappe

MySchool

MySchool ondersteun ook graag skole deur hulle onderrigprogram om van hulle kant af ‘n positiewe bydrae te maak tot die opvoeding van die land.

Ons deel ook graag die goeie nuus dat MySchool ook nou die opsie bied om die MySchool kaart digitaal te bekom. Volg gerus die volgende skakel om te sien hoe u dit op u slimfoon kan aflaai.

https://www.myschool.co.za/get-your-card-here/myschool-app

Sodra u die “app” op u foon afgelaai het, moet u na die “beneficiary” opsies gaan en dan Hoërskool Centurion as u begunstigde opstel. MySchool bied u wel die opsie om 3 skole of instansies te kies, sou u wou, dit gaan wel beteken dat die % voordeel wat die skool sou benut dan net gelykop onder die hoeveelheid begunstigdes gelys, gedeel sou word.

Indien u reeds 'n MySchool kaart besit, is dit wonderlik, u moet net seker maak dat u begunstigde reg opgestel is. Daar is bv. nog ouers wat die leerder se laerskool of vorige skool as begunstigde opgestel het, maak asseblief seker dat *Hoërskool Centurion as begunstigde ingelees is.

Indien u nie meer ‘n kaart besit nie of graag sal wil aansoek doen om ‘n nuwe kaart te bekom, is u welkom om steeds die vorm in te vul, sou u verkies . U kan gerus by Alice by die ontvangskantoor ‘n vorm gaan afhaal, voltooi en terug aan haar besorg. U hoef egter slegs elektronies te registreer of ‘n harde kopie vorm in te vul, u hoef nie albei maniere te volg om te registreer nie.

Sien hiermee ook ‘n lys van vennote waar u, u Myschool kaart kan gebruik: http://www.myschool.co.za/partners/partner-profiles

Saam kan ons 'n groot verskil vir die skool maak, dankie vir u samewerking! Vir enige verdere navrae rondom die inisiatiewe is u welkom om vir Me. K. Roux te kontak by bemarking@hscenturion.co.za
advertensies
art-banderitas-birthday-2337787
Lewende Woord
Netbalafsluiting
resies
Polsslag Voortrekkers
Sekuriteitspos
A6_NEWSLETTER
Kampusdag
facebook youtube instagram website