WOERIE_KAMPUS
Geagte Ouers,

Die Beheerliggaam van Hoërskool Centurion het dit goed gedink om die Woeries te beloon vir al hul harde werk en insette wat hulle op die Woerie-Kampus lewer deur Vrydae as Woerie-Kampusdag in te stel. Woeries sal dus die geleentheid gegun word om hulle netjiese Woerie-gholfhemp, lang blou denim en tekkies op Vrydae aan te trek. Duidelike voorskrifte is uiteengesit om die voorkoms en voorwaardes aan hulle te verduidelik. Daar sal geen kostes verbonde wees aan die dag nie, dit is slegs geleentheid om bietjie gees te vang en hulle self ten volle op die Woerie-Kampus te geniet. Die skool sal elke Vrydag om 13:45 sluit, die program is so uitgewerk dat geen akademiese tyd verloor word deur die dag nie.

Kampusdagvoorskrifte:
- Leerders mag slegs die amptelike Woerie-gholfhemp, soos by School Depot te koop, aantrek.
- Indien dit koud is, mag leerders die amptelike sportbaadjie (reënbaadjie) ook aantrek.
- Leerders moet blou, netjiese lang denims aantrek. Die denims mag glad nie gate, patrone ens. bevat nie. Geen ander kleur denims sal toegelaat word nie.
- Leerders moet netjiese toe tekkies aantrek.
- Amptelike skoolreëls rondom voorkoms soos in die dissiplinestelsel uiteengesit, geld ook vir Woerie-Kampusdag.

School Depot het die derde kwartaal ‘n spesiale aanbod op die Woerie-gholfhemp. Weens die oorweldigende positiewe reaksie wat ons rakende die Woerie-kampusdag ontvang het, is meeste van School Depot se voorraad in sekere groottes reeds uitverkoop. Hulle is reeds besig om nuwe voorraad te bestel en behoort binne die volgende
2– 3 weke beskikbaar te wees. Om al ons leerders steeds die geleentheid te bied om deel te wees van Kampusdag, wil ons graag ‘n spesiale vergunning maak dat leerders wel vir die volgende maand enige Hoërskool Centurion hemp mag aantrek. Dit mag slegs hempde wees met die skool se embleem op, bv. die revue-hemp of sporthemde wat op toere ens. gebruik word.

Ons wil u graag aanmoedig om intussen ‘n bestelling vir die Woerie-gholfhemp by School Depot te plaas. U kan gerus vir Heather by accounts@schooldepot.co.za met u kind se naam en grootte e-pos. Dit sal die bestelproses en beskikbaarheid van groottes vergemaklik.

Die snoepie sal ook heerlike Kampus-kombo’s op Vrydae verkoop.

Ons wil u graag bedank vir u positiewe gesindheid en ons sien uit daardna om hierdie opwindende inisiatief aan ons leerders te bied.

Alles van die beste met die kort maar besige kwartaal wat voorlê.

Woerie-groete
H.J. Koekemoer (Hoof)
facebook youtube instagram website