maxinuss cover13

11 Oktober 2019

Belangrike datums
Maandag: 14 Oktober, Dag 2 – Krieket: o/14 teen o/15 (Tuis)
Dinsdag: 15 Oktober, Dag 3 - Krieket: o/14 teen o/15 (Tuis)
Woensdag: 16 Oktober, Dag 4 – Gr. 8-9 Merietefunksie
Donderdag: 17 Oktober, Dag 5 – Gr.10-11 Merietefunksie
Vrydag: 18 Oktober, Dag 6 – Atletiek: Lentebyeenkoms (Tuis)
Saterdag: 19 Oktober – Krieket: 1B teen Waterkloof
Algemeen

Toppresteerder-toekennings oorhandig by spoggeleentheid

Toewyding, deursettingsvermoë en harde werk is duidelik ten toon gestel en beloon tydens hierdie spogfunksie wat op 8 Oktober 2019 in die skoolsaal plaasgevind het.

Vele matrieks het met hul uitsonderlike prestasies ons Woerie-harte warm laat klop. Trofeë is aan toppresteerders in elke vakgebied en graad toegeken. ‘n Rekordgetal van 20 pennings is oorhandig - ons krieketspan is as nasionale wenners in die T20 aangekondig. Plakkette is ook aan ons ses hoofleiers oorhandig.

Ons prestige-toekenningsaand is op ‘n hoogtepunt afgesluit. Ons wens graag die volgende leerders geluk met hul uitnemende prestasies waarvoor hulle die volgende toekennings ontvang het:

Akademie: Chanté Bosch
Klein sport: Tiaan Geldenhuys
Groot sport: Savannah Combrinck
Kultuur: Elani Botha
Ambassadeur: Zoë Muller
Dux-leerling: Johan Piek

Baie dankie aan me. Ronelle King en haar span wat ‘n pragtige merietefunksie aangebied het. Dit was stylvol en goed georganiseerd.
Prestasies (1)

Departementele Adjunkhoofde aangestel

Ons het die afgelope skooljaar vir mnr. David Barnard en mnr. André Labuschagne as die waarnemende adjunkhoofde, tydens die interim periode, verwelkom tot die die Onderwysdepartment die poste kon vul.

Dit is met groot vreugde dat ons kan aankondig dat beide ons waarnemende adjunkhoofde nou permanent deur die Onderwysdepartment aangestel is. Ons is baie trots op hierdie twee personeellede wat sowaar ‘n verskil by die skool maak!
Hoofde

Skryfbehoefte bestelvorm 2020


Neem asseblief kennis dat die skryfbehoefte bestelvorms vir 2020 aan elke leerder uitgedeel is. Ons wil graag vra dat die toepaslike benodigdhede op die vorm afgemerk sal word en dat u die bestelvorm asseblief teen 31 Oktober 2019 aan die registerpersoneellid sal terugbesorg. Ons vra dat u asseblief die skool sal ondersteun om die proses so spoedig as moontlik af te handel om teleurstelling te vermy.
AKADEMIE

Woerie wen provinsiale elektroniese prys.


Al die skole in Gauteng wat Elektriese Tegnologie as vak aanbied, moet hulle beste drie projekte vir die Onderwysdepartement voorlê. Daaruit word dan die top 10 elektroniese, digitale en swaarstroom-projekte gekies.

Hoërskool Centurion bied Elektronika as vak aan waar ons toe aan die Elektoniese kategorie deelgeneem het. Ons is trots om mee te deel dat een van ons eie Woeries, Jaco Pretorius tans ‘n gr. 12 leerder, as die wenner van die kategorie aangewys is.

As prys het hy 'n volledig toegeruste gereedskapkis gewen. In die foto is mnr T. van Heerden van die Onderwysdepartement wat dit aan mnr. Johan Prinsloo, Elektriese Tegnologie onderwyser by Hoërskool Centurion, oorhandig. Jaco Pretorius is besig met voorbereiding vir die matriek eindeksamen en kon dit dus ongelukkig nie persoonlik ontvang nie.
Jaco Pretorius
SPORT
Krieket

Trotse Noord-Suid T20 Wenners 2019


Hoërskool Centurion het hierdie jaar weereens saam met Waterkloof en Menlopark die Noord-Suid T20 kriekettoernooi vanaf 3 Oktober tot 6 Oktober aangebied. Dit was ‘n fantastiese toernooi gewees.

Die openingswedstryd was teen die gedugte span van Rondebosch Boys High by PHSOB se velde. Ons is versoek om eerste te kolf en kon slegs 146 lopies aanteken. Met Rondebosch se telling op 106/1 na 11 boulbeurte het dit gelyk of die skrif aan die muur vir die Woeries was. Een van die beste eindpogings ooit het egter gevolg en met Centurion, wat die druk laat opbou het en nooit daarna die voet van die rem afgehaal het nie, was Rondebosch vir ‘n skamele 125 lopies almal terug in die kleedkamer gewees. Die unieke oorwinning het die tafel gedek vir meer sprankel-krieket om die res van die toernooi te kom.

Hoërskool Centurion het met hul tweede wedstryd teen Rustenburg eerste geboul en vir Rustenburg beperk tot 131 vir 6 paaltjies plat. Rudi Ferreira het uitgestaan met die bal en 3 beurte afgestuur en drie paaltjies vir ‘n skamele 2 lopies geneem. Centurion het gaan kolf en die teiken behaal met slegs 2 paaltjies plat en die bonuspunt in die sakkie. Michael Salomon met 42 nie uit nie en Charl van den Heever met 40 nie uit nie, het vir die oortuigende wen gesorg.

Tydens die derde groepwedstryd teen Grey College het Centurion weer eerste geboul en vir Grey College tot 147 vir 9 paaltjies beperk. Conrad Mouton, Zander van Tonder en Michael Salomon het uitgestaan met die bal met elkeen wat 2 paaltjies geneem het. Centurion het die teiken gejaag en in 17 beurte met 6 paaltjies in hand verbygesteek. Damien Groenewaldt met 35 lopies en Zander van Tonder met 40 nie uit nie, was uitblinkers met die kolf. Dit beteken Centurion het na die kwarteindstryd deurgedring omdat hulle eerste in hul groep geëindig het.

Centurion se eerste krieketspan het teen St. Andrews, Bloemfontein, in die kwarteind gespeel en met 6 paaltjies gewen. Centurion het St.Andrews tot 177 vir 6 beperk. Ons het die telling in die 19de beurt verbygesteek, met Damien Groenewaldt met 73 nie uit nie en Charl van den Heever met 50 lopies, wat uitgestaan het.

In die semi-finaal het Centurion eerste geboul en vir Northwood van Kwazulu-Natal vir 129 uitgeboul. Die Centurion manne het die telling in 17 beurte gejaag met Zander van Tonder wat 40 aangeteken het om te verseker dat hulle vir 'n tweede agtereenvolgende jaar in die finaal van die Noord-Suid T20 teen Menlopark speel.

Centurion het Sondag, 6 Oktober, in die Noord-Suid T20 finaal teen Menlopark op Camp Discovery se veld te staan gekom. Menlopark het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Centurion het hulle tot 149 vir 7 beperk na hulle 20 beurte met Jonathan Vorster, wat met syfers van 2/21 in sy toegelate 4 boulbeurte gespog het en as bouler tydens die finaal aangewys is.

Centurion het die teiken stelselmatig verklein, met Ryan Salomon wat die hoogste telling van 48 aangeteken het. Charl van den Heever se onoorwonne 37 van 25 balle en Nathan Fox se onoorwonne 25 van 9 balle het die wedstryd baie vinnig afgehandel. Daarmee het Centurion die bordjies van verlede jaar verhang en is as wenners van die tweede Noord-Suid T20 gekroon.

Ons wens graag vir mnr. J. Cloete, mnr J. Nagel en die eerste span van Hoërskool Centurion baie geluk met die fantastiese oorwinning.
Eerste krieketspan - Klaar Taalversorg

Ons eie krieketster


Conrad Mouton het onlangs aan die Titans franchise se proewe deelgeneem en is vir die O/17A-span gekies wat van die 6de tot die 11de Desember in 'n nasionale week in Port Elizabeth gaan deelneem.

Conrad het ook die afgelope naweek sy 100ste paaltjie vir Hoërskool Centurion in sy 70ste wedstryd vir die skool se eerste krieketspan gevat.

Hierdie is beide ongelooflike prestasies en ons is baie trots op wat hy met sy krieketloopbaan bereik.
C. Mouton krieket
Sagtebal

Sagtebaldogters kwalifiseer vir finaal

Ons o/14 en eerste span sagtebaldogters het die afgelope naweek in die semi-finaal gespeel en het beide naelbyt wedstryde teen Overkruin gehad.

Die eerste span dogters het hulle wedstryd met ‘n telling van 5-4 gewen en die o/14 dogters het hulle wedstryd met ‘n telling van 7-6 gewen.

Ons spog graag met ons sagtebaldogters wat met harde werk en groot ywer vir die finale kwalifiseer wat môre by Crafford Stadion plaasvind. Al vier ons sagtebalspanne is dus nou by die finale rondte ingesluit.

Ons wens graag die afrigters en spelers baie sterkte toe met die groot en belangrike wedstryde wat voorlê.
Eerste sagtebalspan
KULTUUR
Cleopatra

Leer ons Cleopatra-wenners ken


Die Woerie-mediahuis het dit goed gedink om ons Cleopatra wenners beter te leer ken, dus het ons vir elkeen van hulle vyf vrae deurgestuur om te beantwoord.

Hierdie week leer ons vir Meneer Hoërskool Centurion, Conrad Mouton, ken:

(V) Hoe voel dit om Mnr. Hoërskool Centurion te wees?
(A) Dit voel fantasties en is ‘n groot voorreg! Ek wil graag ‘n voorbeeld vir my maats wees en ek hoop dit motiveer ander om ook deel te neem en die Woerie-hartklop te ervaar.

(V) Wat dink jy het tot jou sukses met Cleopatra 2019 gelei?
(A) My ouers en boetie se volgehoue ondersteuning asook Rulise se deursettingsvermoë met die oefen van ons dans-item, het baie gehelp.
C. Mouton
(V) Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jou naam as Mnr. Hoërskool Centurion gelees is?
(A) Ek was oorweldig, maar ook baie opgewonde en bly - ek weet dit is ‘n groot voorreg.

(V) Wat van Cleopatra was vir jou die hoogtepunt?
(A) My en Rulise se dans-item het ek baie geniet en om toe as Mnr. Hoërskool Centurion aangewys te word, was baie spesiaal.

Fotokrediet: GB Jordaan
sosiaal

Matrieks sê totsiens


Die matrieks het Dinsdag, 8 Oktober, hulle laaste dag van skool gehad, waar hulle die onderwysers en die leerders van Hoërskool Centurion gegroet het. Die vaarwel is as ‘n geselsprogram aangebied met Tyrese van Burick en Julius Krahtz as aanbieders.

Die matrieks het met trane in hulle oë vir die laaste keer die klok gelui om die einde van hulle skoolloopbaan by Hoërskool Centurion aan te dui.

Dit was ‘n wonderlike manier om hulle laaste skooldag af te sluit en die emosies het hoog geloop.

Ons wens vir elke matriekleerder sterkte toe, nie net met hulle eindeksamen wat voorlê nie, maar ook met hulle toekoms. Ons weet hulle gaan ons trots maak en dit wat hulle hier geleer het altyd saam met hulle in hulle harte dra.

Matrieks 2019, julle sal vir altyd ‘n merk hier op Woerie-kampus los.
JP van Zyl
woerie omgee

Woerie-Wafferprojek


Die Lewenswetenskappe departement het op Vrydag, 4 Oktober, vrywillige gemeenskapsdiens by die DBV Centurion-tak gedoen om die Woerie-Wafferprojek te loods.

Leerders het onder leiding van mev. N. van Niekerk en mnr. J. Saayman bene saam met die honde gestrek en met die katte gespeel as deel van die nodige stimulasie vir hierdie diere wat ‘n tuiste soek.

Die doel van die Woerie-Wafferprojek is om die geleentheid vir die leerders te skep om terug te gee aan die gemeenskap sowel as om waardevolle ervaring op te doen vir toekomstige beroepsvelde.
A. Vos
bemarking

NOCTE CUCURRI 2019


Hiermee nooi ons graag ons ouers en leerders uit om die geleentheid saam met ons te kom geniet.
Teken 24 Oktober in u dagboek aan!

Bring jou man of vrou, boetie of sussie en sommer ouma en oupa ook!

Kom wees kaatjie van die baan en wys van watter stoffasie jy gemaak is as jy ander in die stof laat byt en die paal haal! Roer jou litte en skryf vir die Nocte Cucurri in!

R30 vir deelnemers (gratis ingang)
R10 vir toeskouers
NOCTE CUCURRI_A5flyer
Buitemuurs

Woerie sagtebal spelers toer na Nederland

Die afgelope vakansie het ses van die Woerie-sagtebaldogters en twee afrigters vir sagtebal na Nederland getoer. Dit is Kaylan Pieterse en Suretha van der Merwe wat deel was van die O/16 span en Zoë Muller, Elani Botha, Savannah Combrinck, Elzanne Burger, me. Van Rooyen en mnr. Diamond was deel van die O/18 span.

Dit is die eerste keer na afhandeling van die interstreek skole sagtebaltoernooi wat so “All Star” span gekies is om te gaan toer.

Dit was ‘n ongelooflike suksesvolle toer! Hulle het oefenklinieke saam met van die Nederlandse spelers en -afrigters gehad en het ook baie by hulle geleer. Die Suid-Afrikaanse spanne het al hul wedstryde, behalwe een, gewen. Een van die spanne was ook in die plaaslike koerant.

Dit was ook ‘n groot voorreg en heerlike ervaring om deur Nederland te toer en te kon sien hoe ongelooflik mooi die land is en om meer oor hul tradisies en leefwyse te leer.
Dream Team 1 (1)
advertensies
Wisk Ekstra Klasse
YouTube Kompetisie
Makro Stappe
facebook youtube instagram website