maxinuss cover13

18 Oktober 2019

Belangrike datums
Maandag: 21 Oktober, Dag 1 - Bloedskenkdag
Dinsdag: 22 Oktober – Eksamen begin | Skool sluit 11:00
Woensdag: 23 Oktober – Eksamen | Gr.8-11 Kerkdiens | Skool Sluit 13:00
Donderdag: 24 Oktober - Eksamen | Nocte Cucurri
Vrydag: 25 Oktober - Eksamen
Algemeen

‘n Emosioneel belaaide afskeid: Matriekdiens 2019

Op Woensdag, 9 Oktober 2019 om 18:30, het al die matrieks van 2019 vir oulaas by KSM bymekaargekom. Die diens is deur ds.Tiesie de Coning gelei. Haar aanwending van die Arabiese idioom, die kamele dans, het diep getref. Ds. Tiesie het Eksodus 33 vir almal verlewendig met vers 14–15 as kern van haar gesprek met elke matrikulant.
Eksodus 33:14-15: "Toe het die Here gevra: 'Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?' Toe het Moses vir Hom gesê: 'As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.' ”

Tydens die kersaansteekseremonie het mnr. J. Nagel en me. R. Heyns (graadhoofde) die eerste kers, wat kennis en geloof verteenwoordig, aangesteek. Daarna het die vyf registerklasse, wat deur die gr.12-VLR verteenwoordig is, die vyf ander kerse met die kers, wat kennis en geloof verteenwoordig, aangesteek. So sal die matrieks se kennis en geloof, wat hul by Hoërskool Centurion ontvang het, ook altyd in hul brand. Me. R. Heyns het ‘n afskeidsboodskap namens die skool gelewer en Anica Vos het as solis opgetree. Vele foto’s van die matrikulante se afgelope vyf jaar in Hoërskool Centurion is ook vertoon.

Die skoolkoor het tydens die diens drie liedere voorgedra. Almal in die gehoorsaal se hartsnare is geroer toe die koor vir oulaas vir die matrieks Friends are Friends Forever (Michael W. Smith) gesing het. Almal het ten slotte die skoollied met trots saamgesing.

Baie dankie aan elke Woerie-onnie wat ook ‘n erewag aan die einde van die diens vir die matrieks gevorm het. Dit was ‘n aand wat voorwaar deur elke matrikulant van 2019 gekoester sal word.
E. van den Bergh, H. van der Walt, C. Bosch, J. Piek, M. Webster en A. Roth (1)
AKADEMIE

Eksamenreëlings


Hiermee deel ons graag die volgende belangrike reëlings rondom die eindeksamen:

07:30 - 08:00: Inhandiging van handboeke
08:00 - 08:10: Aantreeblad
08:10 - 08:30: Aantree by eksamenlokaal
08:30 - Begin van eksamen

Maandag, 21 Oktober: Normale skooldag.
Dinsdag, 22 Oktober: Skool sluit om 11:00.
Woensdag, 23 Oktober: Kerkdiens, skool sluit om 13:00.

*Leerders wat by die skool studeer, sal gedurende die eksamen om 12:00 verdaag.
*Graadhoofde sal, indien van toepassing, die nodige inligting rondom lokale en sessietye aan leerders verskaf.

Ons deel graag met u die finale eindeksamenrooster, sowel as die eksamenafbakenings van graad 8 -11. Kliek gerus op die volgende skakel om die inligting te bekom.
Ons wens die leerders baie sterkte toe met die eindeksamen en weet dat die harde werk, wat deur die loop van die jaar ingesit is, beloon sal word.

Skryfbehoefte bestelvorm 2020


Ons herinner u graag aan die skryfbehoefte bestelvorms vir 2020 wat aan elke leerder uitgedeel is. Ons wil graag vra dat die toepaslike benodigdhede op die vorm afgemerk sal word en dat u die bestelvorm asseblief teen 31 Oktober 2019 aan die registerpersoneellid sal terugbesorg. Ons vra dat u asseblief die skool sal ondersteun om die proses so spoedig as moontlik af te handel om teleurstelling te vermy.
SPORT
Sagtebal

Sagtebal Tshwane provinsiale finale en provinsiale spelers

Die afgelope Saterdag, 12 Oktober 2019, het al vier ons A-spanne aan die Tshwane finale deelgeneem. Dit was ‘n groot dag tussen ons en Hoërskool Oos-Moot. Dit was al vier ons A-spanne in die die finale teen al 4 Oos-Moot se spanne.

Die O/15 A-span het in ‘n naelbyter wedstryd, waarin hul so mooi teruggeveg het en twee onbesliste spelbepalers gespeel het, ongelukkig 6-9 verloor. Die dogters het soveel moed en deursettingvermoë getoon dat dit ‘n jammerte is dat hulle verloor het.

Die O/16 A-span het ‘n fantastiese seisoen gehad. Hulle was ligawenners en het vir die eerste keer in ‘n Tshwane-finaal gespeel. Die dogters was ongelukkig van die begin af onder druk maar het ongelooflik mooi terugbaklei om maar slegs 9-11 te verloor. Hierdie dogters het een van hul beste seisoene beleef en ons sien uit om hul sagteballoopbaan by die Woeries dop te hou.

Die O/14 A-span het by die veld opgedraf met die visie om daardie dag die trofee huis toe te neem. Elkeen in die span het hul plek ingeneem en die beste vertoning van die seisoen gelewer. Die veldwerk was uitstekend. Hierdie span het balle gevang wat voorheen buite hulle bereik was. Die dogters het beïndruk deur die balle van die Oos-Moot gooier met mening die veld in te slaan. Die gooier van die Woerie-span het haarself oortref deur geen lopies teen haar en haar span te laat aanteken nie. Wat ‘n spanpoging om as wenners gekroon te word!

Ons eerste span het met ‘n ongelooflike eerste beurt begin en het Oos-Moot se eerste drie kolwers uitgehaal en tydens hul beurt met die kolf vier lopies aangeteken. Oos-Moot het egter teruggeveg in die wedstryd en het toe in die volgende drie beurte een lopie in elke beurt aangeteken. Ongelukkig kon die Woeries nie weer punte aanteken nie, maar het gelukkig gekeer dat Oos-Moot enige verdere lopies aanteken en het dus die wedstryd 4-3 gewen. Ons is ongelooflik trots op die eerste span dogters, hulle het waarlik die skool se naam in daardie finaal hoog gehou.

Die eerste span en die o/14 A-span speel vandag, 18 Oktober, in die SASI /USA Sport kampioenskappe teen Noord-Wes en die eerste span speel ook Saterdag, 19 Oktober, in die Gauteng-kampioenskappe.
Tshwane Provinsiale naaswenners en wenners:

O/15 B-Span – Ligawenners
O/19 B-Span - Ligawenners
O/15 A - Naaswenners
O/16 A - Naaswenners
O/14 A – Wenners
Eerste Span – Wenners
Individuele pryse, uitgedeel tydens die Tshwane finale:

Beste gooier in die O/16 A-liga – Leandri Erasmus
Beste gooier in die O/19 A-liga – Nadia de Lange
Beste vanger in die O/19 A-liga – Tameka Vorster
Daar was in Augustus proewe vir die provinsiale spanne gehou en ons kan met trots sê dat daar baie Woerie-dogters is wat die span gehaal het! Daar was ook afrigters vir die verskeie spanne gekies, waarvan ‘n paar Woerie-afrigters is. Ons sê geluk aan die volgende dogters en afrigters:
Noord-Gautengspanne O/15:

BLUE SOX:
Bianca de Lange
RED SOX:
Shante van Antwerp
Tanya Niemand
Riane Bosman
Kaylee Booysen
WHITE SOX:
Mirna Lombard
Jenna van Doorene
Gauteng O/17-span:

Tasmin Vorster
Tameka Vorster
Nadia de Lange
Zani Pretorius
Megan Rabe
Noord-Gautengspanne O/19:

BLUE SOX:
Zani Gorgens
Luhane Meyer
WHITE SOX:
Suretha van der Merwe
Kaylan Pieterse
Karli Snyman
Karna Potgieter
Leandri Erasmus
Tessa Engelbrecht
PROVINSIALE AFRIGTERS:

Jackie van Wyk – White Sox dogters O/19
Paul Prinsloo – Blue Sox dogters O/19
Carlien Coetzer – Blue Sox dogters O/19 asook Gauteng O/17 dogtersafrigter.

Een van ons ouers, mnr. Riaan de Lange, wat ook gereeld as skeidsregter vir die skool optree, is ook as afrigter van die O/15 seuns Red Sox-span gekies.

Baie dankie aan elke afrigter, tellinghouer en skeidsregter wat tot dusver gehelp het om die sagtebalseisoen ‘n groot sukses te maak.
Sagtebal onder 14
Krieket

Skitterende uitslae vir ons krieket

Die eerste span, met die oorwinning van die Noord-Suid T20 finaal vars in die geheue, het in hul laaste ligawedstryd teen Cornwall Hill College te staan gekom. Ons het die loot op ons tuisveld verloor en is versoek om eerste te kolf. Met die telling op 5/2 na 2.1 boulbeurte, het dit gelyk asof ‘n lang dag op die Woeries sou wag.

Mike Salomon en Zander van Tonder het egter ander planne gehad. Met ‘n skitterende vennootskap van 207 lopies om die derde paaltjie, het hulle verseker dat die fondasie vir ‘n groot telling gelê word. Charl van den Heever het met ‘n vlugtige 92*(63 balle) gehelp dat ons die wenteiken na ‘n verdedigbare 355/5 opstoot aan die einde van ons toegelate 50 boulbeurte.

Alhoewel Cornwall ‘n parmantige openingsvennootskap van 55 lopies gehad het, het die eerste span hul stadig maar seker gewurg en is ons opponente vir ‘n skamele 107 lopies uitgeboul. Ons wen dus die laaste ligawedstryd met 248 lopies.

Ons 0/15A-span het vroeër die week in ‘n middag-aandwedstryd Cornwall versoek om eerste te kolf en hul op hul eie tuisveld vir slegs 68 lopies uitgeboender. Dit was grootliks aan die boulwerk van Ruben Pieterse, wat 6 kolwers druipstert laat terugstap het. Saam met Ryan Kruger het hy daarna behoorlik vuur gemaak met die wilgerlat en verseker dat die wedstryd lank voor die ligte aangeskakel kon word verby was.

Die 1C-span moes ongelukkig Vrydagaand, in hul ligabepaling, die knie voor Menlopark buig. Die Ibbies kom eerskomende Saterdag op ons tuisveld teen Waterkloof se tweede span te staan in ‘n wedstryd wat gaan bepaal wie die A-afdeling van die eerste Goue-liga gaan wen. Sterkte aan hulle.
M. Salomon
Atletiek

Middelafstand atletiekbyeenkoms lewer medaljewenners

Op Vrydag, 11 Oktober, het Hoërskool Centurion aan ‘n vriendskaplike middelafstandbyeenkoms te Hoërskool Montana deelgeneem.

Die leerders het baie goed presteer en ons sê graag geluk aan die volgende leerders met hulle medaljes:

Isabelle van Niekerk (brons-1500m)
Marlene van der Linde (goud- 3000m en silwer - 1500m)
Clarissa Pretorius (silwer - 1500m en brons - 3000m)
Gareth Smith (brons - 3000m)
Ronan Rybnikar (silwer 3000m, brons- 800m en brons -1500m)
Ulrich Putter (brons – 3000m)
G. van der Linde
Rugby

Rugby-afsluitingsfunksie

Ons het Vrydag, 11 Oktober, 'n heerlike afsluitingsfunksie vir 2019 se rugbyseisoen gehad. Daar was pryse aan verskeie seuns oorhandig en ons sê geluk aan die volgende seuns met hulle prestasies:
0/16:
Beste vordering: Echardt van Heerden
Beste agterspeler: Vian van der Merwe
Beste voorspeler: Wian Venter

1STE Span:
Beste vordering: Daniel Eybers
Beste agterspeler: Christiaan Grobler
Beste voorspeler: MJ van Dyk en Riegardt Pelser
Meeste drieë: Christiaan Grobler
Goue grote: JP Jacobs
0/14:
Beste vordering: Dian Erasmus
Beste agterspeler: Waldo Koeleman
Beste voorspeler: Dawid du Plessis

0/15:
Beste vordering: JJ van Zyl
Beste agterspeler: Johan Botes
Beste voorspeler: Wiehan Labuschagne
Ons sê aan al die borge wat die jaar moontlik gemaak het asook die afrigters vir al hulle harde werk en tyd, baie dankie:

Otto Lambrecht van Hyundai Centurion
Buks Grobbelaar van Global Tyres
Telita Grundlingh van Shell (Jean ave)
Danie Botha
Shaun Hefferman
Johan Booysen van Centurion Solar
Thinus en Elsa van Dyk

Dankie ook aan elke ouer wat die tyd en moeite ingesit het om die seuns by oefeninge en wedstryde te kry en te ondersteun. Sonder julle as ouers sou ons nie so baie kon bereik het nie.

Ons sien uit na die komende seisoen, nie net om weer met die sport wat ons lief het te begin nie, maar na die opwinding en verbetering wat in die nuwe seisoen gaan plaasvind.
Eerstspan 2019
KULTUUR
Redenaars

Radikale Redenaars Nasionale Finaal


Paul Strydom, 'n huidige Woerie, het onlangs aan die Radikale Redenaars se Nasionale Finaal by Laerskool Constantiapark in Pretoria, in die Engelse Prosa leesafdeling deelgeneem.

Paul het na 'n strawwe rondte en hoë gehalte kompetisie die nasionale titel met sy lesing van 'n Shakespeare stuk gewen.

Ons is uiters trots op hierdie prestasie en sien 'n ongelooflike toekoms wat vir hierdie jong man voorlê!

Roelandi de Bruyn, ook 'n huidige Woerie, het ook aan die finaal, in die Engelse poësie afdeling deelgeneem. Ongelukkig word net die wenner en naaswenner dadelik aangekondig en ons sien uit om haar resultate op 17 Oktober te ontvang.

Baie geluk aan die twee leerders wat die skool op so ‘n hoë vlak verteenwoordig het.
P. Strydom
Cleopatra

Leer ons Cleopatra-wenners ken

Die Woerie-mediahuis het dit goed gedink om ons Cleopatra wenners beter te leer ken, dus het ons vir elkeen van hulle vyf vrae deurgestuur om te beantwoord.

Hierdie week leer ons vir Mej. Hoërskool Centurion, Rulise Badenhorst, ken:

(V) Hoe voel dit om Mej. Hoërskool Centurion te wees?
(A) Dit voel nie werklik nie. Ek ervaar elke keer wanneer ek aan die aand van Cleopatra terugdink ‘n gevoel van adrenalien en opwinding.

(V) Wat dink jy het tot jou sukses met Cleopatra 2019 gelei?
(A) Ek dink deur om uit en uit myself te wees, niks voor te gee nie en net elke oomblik ten volle te geniet, het tot my sukses gelei.
R. Badenhorst
(V) Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jou naam as Mej. Hoërskool Centurion gelees is?
(A) Ek kon dit werklik nie glo nie. Op daardie oomblik was ek net so bly dat die aand vlot verloop het en dat die aand so lekker was. Ek was regtig verbaas gewees.

(V) Het jy dit verwag om as Mej. Hoërskool Centurion gekroon te word?
(A) Nee glad nie! Ek het nie omgegee of ek enige titel gaan wen nie. Ek wou net hê dat die aand ‘n sukses moes wees en dat ons almal dit moes geniet. Dit was een van die beste aande van my lewe. Dit is ook ‘n groot voorreg om dit te kon deel met so ‘n wonderlike groep mense.

(V) Wat van Cleopatra was vir jou die hoogtepunt?
(A) Die lekkerste was om in ‘n ongelooflike mooi rok tot voor op die loopplank te loop en al my vriende en familie te sien. Om hulle ondersteuning te kon ervaar en aanmoediging te hoor, het vir my hoendervleis gegee, maar terselfdertyd ‘n gerustheid in my hart geplaas. Wat ‘n fantastiese ondervinding.

Fotokrediet: GB Jordaan
Buitemuurs

Woerie op pad na Duitsland

Een van ons Woeries, Daniëlle Claassens, is goedgekeur en as ‘n kandidaat gekies om as uitruilstudent na Duitsland te gaan. Sy het vir die keuringstoets ‘n punt van 74,57% behaal wat haar 17de in die provinsie en 43ste in die land plaas. Sy gaan Desember in Duitsland spandeer. Sy gaan vir daardie 4 weke by een van die skole ingeskryf word waar sy saam met die Duitse leerders gaan klas draf.

Hierdie is ‘n fenomenale geleentheid en ons wens haar geluk met hierdie prestasie.
D. Claassens
bemarking

NOCTE CUCURRI 2019


Die eerste van sy soort! Almal is welkom!

Kom geniet die aand saaam met ons en staan ‘n kans om te wen! Ons voorsien ‘n 99,9% kans vir pret asook ‘n astronomiese storm van pryse wat gewen kan word, so skryf nou in om te voorkom dat jy uitmis!

Om aanlyn in te skryf, volg gerus die volgende skakel:
R30 vir deelnemers (gratis ingang)
R10 vir toeskouers

Sien hier hoe ons voorberei vir die Nocte Cucurri 2019:
http://bit.ly/NocteCucurriHouding
http://bit.ly/IsJyGereedVirNocteCucurri
NOCTE CUCURRI_A5flyer
alumni

Oud-Woerie ingesluit by junior Springbok oefenspan

Ethan Wentzel, 'n oud-Woerie, is onlangs in die 30-man rugbyspan ingesluit, wat Suid-Afrika in Tsibilisi, Georgia vanaf 27 November – 5 Desember gaan verteenwoordig. Die span is deur die junior Springbokafrigter, Chean Roux aangekondig.

Tydens hierdie toer gaan hulle op 2 en 5 Desember teen Georgia se o/19 span meeding. Hierdie wedstryde vervang die oefenkamp wat die afrigters in die verlede gebruik het om die finale span vir 2020 te kies.

Die span begin reeds 24 November in Stellenbosch met hulle voorbereiding vir die toer. Ons wens vir Ethan baie sterkte toe met hierdie toer en weet hy gaan ongelooflik doen.
E. Wentzel
Ware woerie ouers

ROCKWOOD THEATRE FONDSINSAMELINGSPROJEK


Ons bedank elke ouer en leerder wat die fondinsamelingsprojek ondersteun het. Dit was ‘n pragtige aand vol gees gewees.

Die kunstenaars is ongelooflik talentvol en het almal op hulle voete gehad.

‘n Spesiale dank aan die WWO wat die tyd en moeite ingesit het om die projek op so ‘n suksevolle manier af te sluit.
advertensies
0001
80s Zumba Fundraiser
Wisk Ekstra Klasse
YouTube Kompetisie
Makro Stappe
facebook youtube instagram website