Toere

België-uitruilprogram

Die tyd het aangebreek vir die België-uitruilprogram.  Vyftien graad 10- en graad 11-leerders gaan vanaf 21 September 2012 tot 6 Oktober 2012 deelneem aan hierdie program.  Ons bly in Ieper, maar sien wonderlike besienswaardighede in onder meer Brussels, Brugge, Ardenne en natuurlik die hoogtepunt Parys, Frankryk!

Europa, hier kom ons!


Vyftien Woeries, vergesel deur me. E. Janse van Rensburg en me. J. Booysen, het gedurende die Septembervakansie van 2011 aan ‘n uitruilprogram tussen België en Suid-Afrika deelgeneem.

Die program is so ontwikkel dat die leerders nie net verskeie toeriste-aantreklikhede besoek nie, maar het ook saam met die Belge geleef om hul kultuur op ‘n besondere wyse te leer ken.  Elke leerder is by ‘n gasgesin ingedeel waar hulle dan tydens dié twee weke tuisgegaan het.  ‘n Paar interessanthede van die Belge is:

  • Sjokolade vir ontbyt.
  • Hulle dra geen skooluniform nie.
  • Belge ry per fiets, bus of trein skool toe.
  • Aartappels word in verskeie vorme saam met elke ete bedien.  Die bekendste is “fritjies”, wat volgens die Belge nie eintlik “French Fries” is nie, aangesien dit hulle spesialiteit is.
  • Belgiese wafels is snoeperye in daaglikse kospakkies.  Dis nie net wafels soos ons dit ken nie!  Suikerwafels en heuningwafels is van die gewildste, asook dan gewone wafels met roomys.
  • Belge is baie trots op die feit dat hulle verskeie tale magtig is en selfs laerskoolleerders kan gemiddeld drie tale praat.

Die program in ‘n neutedop is:

Saterdag 24/9:  Ons arriveer in Ieper en gaan na die skool vir ‘n verwelkomingsfunksie saam met die hoof en die onderskeie leerkragte wat die program in België bestuur.  Die leerders ontmoet hulle gasgesinne en vertrek na hul onderskeie huise.

Sondag 25/9:  Leerders spandeer die dag saam met hulle gasgesinne.  Ons vertrek as ‘n groep na Ardenne vir ‘n paar dae.

Maandag en Dinsdag 26/9 – 27/9:  Ons bly in Villetoile, Ardenne wat ‘n ou kasteelgebou is.  Hier gaan ons op ‘n staptoer, ry 21km kajak en gaan op ‘n spookwandeling!

Woensdag 28/9:  Die Woeries spandeer die oggend by die skool en maak onder andere ‘n voorstelling oor Suid-Afrika.  Hier het ons verskeie moeilike vrae oor Suid-Afrika gekry, maar die leerders het die vrae baie goed hanteer.  Een van die snaakste vrae: “Doesn’t the lions attack you when you’re walking around in town?”

Donderdag 29/9:  Ons besoek begraafplase, historiese plekke en museums van die Eerste Wêreldoorlog.  Dit was ‘n baie emosionele dag wat ‘n hoogtepunt die aand bereik het, toe ons ter ere van alle gesneuwelde Suid-Afrikaanse soldate ‘n krans as huldeblyk gelê het.

Vrydag 30/9:  Parys!  Ons verf Parys pienk en besoek onder andere die Eiffeltoring, Arc de Triomph, Sacre Quoer en die Louvre.

Saterdag en Sondag 1/10 – 2/10:  Tydens ‘n af naweek word leerders deur hul gasgesinne bederf.  Sommige leerders gaan na Frankryk se kus en ander weer na ‘n pretpark.

Maandag 3/10:  Ons besoek Brussels.  Daar is ‘n baie interessante tentoonstelling van Tutanchamon se grafte en skatkiste.  Daarna ontdek  ons Brussels  met ‘n “Amazing Race”-speletjie.

Dinsdag 4/10:  Brugge is die sjokoladestad.  Ons gaan op ‘n sjokoladewandeling en leer oor die verskillende tipes sjokolades.  Ons vaar ook op Brugge se kanale.

Woensdag 5/10:  By die skool spandeer ons tyd waar ons aan verskillende interessante aktiwiteite deelneem.  Die dag word met ‘n Zumbaklas afgesluit wat die dogters baie geniet het.  Die seuns het egter twee linkervoete!  Ons is die middag weer die strate in om ‘n paar finale geskenkies te koop om huis toe te bring.

Donderdag 6/10:  Ons is na die kuslyn om ‘n dag op die strand te spandeer.  Die weer speel egter nie saam nie maar ons speel Volleybal, straathokkie en neem aan verskeie ander aktiwiteite deel.

Te vinnig het die tyd aangebreek om ons nuwe vriende te groet.  Daar is lang trane gehuil op die lughawe en dit spreek boekdele van die vriendskapsbande wat gesmee is.  Ons sien daarna uit om hulle in April 2012 in Suid-Afrika te verwelkom en ‘n bietjie van ons beeldskone land met hulle te deel.

[nggallery id=6]