Ons wil graag ‘n geleentheid vir ons hele gemeenskap skep om te kom stil word, te besin en die Here se hart te hoor oor ons pad vorentoe. In Jeremia 33:3 rig die Here ‘n oop uitnodiging: “Roep my aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”
Kom raak deel van ‘n geleentheid waar u tyd kan kry om stil te raak, waar u u hart kan hoor klop en in stilte die Here kan soek. Kom bid vir ons leerders, ouers, personeel en gesinne in ons gemeenskap. Almal van ons ken iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan, maar dit blyk dat daar nooit tyd is om vir mense te bid nie.
Kom raak deel van ‘n geleentheid waar ons deel van die oplossing kan wees.
Ons gaan die skoolsaal vir die drie dae as ons gebedslokaal voorberei. Daar sal sitkamerbanke wees, koffie/tee, tafels waar u kan sit en skryf, of sommer net teken as dit u passie is. Daar is selfs ‘n geïsoleerde spasie, indien u uself wil isoleer om tyd alleen te hê. Gebedslyste sal beskikbaar wees om vir ons leerders en personeel te bid, asook ‘n gebedsjoernaal om anonieme gebedsversoeke neer te skryf. Die saal sal van 6 tot 8 Mei 2024 elke dag van 06:00-18:00 tot ons gemeenskap se beskikking wees.
Ons sal graag groeperings versoek om ons in die volgende tye te help:
– 06:00 – 07:00 Gesinsgebed. (Kom bid saam met u kinders en vir u kinders voor die dag begin.)
– 07:00 – 14:00 Ouers en personeel bid. (Leerders is pouses welkom.)
– 14:00 – 18:00 Leerders bid. (Ouers en personeel is welkom.)
Leerders moet deur die dag in die klasse wees, dus kan hulle nie deur die skooldag kom bid nie. Die gebedsessies word in 30 minuut-gleuwe beskikbaar gestel, maar u is welkom om langer in die saal te bly indien u die behoefte het. Ons wil graag hê dat daar iemand regdeur die twaalf ure van die dag in die saal sal wees om vir ons gemeenskap te bid. Die skakel om ‘n tydgleuf te bespreek, is hieronder beskikbaar:
Indien u betrokke wil wees, maar nie weet wat om in die saal te doen nie, sal ons inligtingsblaadjies hê om u te help om vir ‘n 30 minute-tydgleuf besig te wees. Indien u net in die saal in stilte wil kom sit en niks doen nie, is u ook baie welkom om te kom. Daar sal ook daagliks ‘n persoon in die saal wees wat u kan lei indien die behoefte bestaan.
Soos ons in Jesus se lewe in die Bybel die voorbeeld sien dat Hy nie net ‘n hart vir gebed het nie, maar ook ‘n leefstyl van gebed, wil ons hier op die Woerie-kampus daardie voorbeeld navolg. Kom ons bid die week saam. Mag ons bid soos Hy gebid het, vir ons kinders, ons personeel, ons ouers en ons gemeenskap. Mag die Woerie-kampus ‘n plek wees waar ons op ons knieë gaan en die Here se goedheid, genade en beloftes oor ons gemeenskap afbid.
Ons hart is dat ons as ‘n Woerie-gemeenskap hier in eenheid kom erken dat ons die Here nodig het en ons behoeftes vir ons gemeenskap aan Sy voete kom neerlê.
Ons wil u aanmoedig om deel van hierdie gebedsweek te wees.