Geestesversorging by Hoërskool Centurion.
Mentors

By Hoërskool Centurion is dit belangrik dat elke leerder emosioneel gebalanseerd en vervuld sal wees.  Om dit te bewerkstellig, tree ons pro-aktief en reaktief op deur die volgende:

  • Ouertoerusting
  • Vakkeuse-evaluering
  • Loopbaanvoorligting
  • Leervaardigheidsontwikkeling
  • Spesifieke lewensoriënteringsaanbiedings
  • Krisis- en traumaberading
  • Hantering van verhoudingsprobleme met ouers, vriende, onderwysers en die teenoorgestelde geslag
  • Hulpverlening tot potensiaalverbetering
  • Geestelike toerusting
Die sentrum vir Geestesgesondheid

Die sentrum vir Geestesgesondheid kyk na elke kind se welstand op pro-aktiewe en reaktiewe wyse.

Op pro-aktiewe wyse word die vak Lewensoriëntering bestuur sodat daar, met inagneming van die kurrikulum, spesifieke temas met verskillende graadgroepe gedoen word. Hierdie temas is gekoppel aan die skool se waardesisteem en is ‘n ideale manier om waardes op te skerp. Ouerleidingskursusse word ook aangebied sodat die skool met die ouer kan hande vat rondom die begeleiding van die kind.

Die sentrum het `n behoefte rakende studie-leiding geïdentifiseer en daar word deurlopende basis-studiekursusse aangebied.

Op reaktiewe wyse is daar bekwame mentors by die skool wat tydens skoolure individuele gesprekke met leerders voer. Hierdie diens is gratis en vrywillig en word met die uiterste konfidensialiteit hanteer. Indien die mentors probleme identifiseer wat meer professionele aandag vereis, word hulle na professionele persone verwys vir verdere leiding. Met toestemming van die kind en indien nodig, word ouers ook gekontak.

Soos wat verdere behoeftes geïdentifiseer word, sal die dienste uitgebrei word. Ouers is egter welkom om voorstelle te maak indien hulle sekere behoeftes raaksien waaraan nie beantwoord word nie.

Raad aan ouers

Ons wil graag ‘n paar insette lewer ten opsigte van die groei en ontwikkeling van u kind.

Die primêre vraag wat ouers ten opsigte van die opvoeding van kinders moet vra is: “Wie wil ek hê moet my kind word?” en “Hoe gaan ek hom daarin begelei?”. Hierdie proses begin reeds van ons kinders se geboorte af. Wanneer hulle hoërskool toe gaan, is dit goed om voorraadopname te maak, aangesien die uitdagings groter word.

Daar is twee basiese foute wat ouers maak, naamlik oorbetrokkenheid en onbetrokkenheid.

Oorbetrokkenheid
As ouer moet u asseblief nie u kind se verantwoordelikhede op u neem nie. Laat u kind toe om eers self te probeer om die konflik of uitdaging te hanteer . As daar na vele pogings nie ‘n gewenste resultaat is nie, kan u as ouer betrokke raak. Kinders wil in die hoërskool graag hulle ouers se ondersteuning hê waar die ouer gesien word en nie noodwendig gehoor moet word nie. U moet asseblief nooit u teenwoordigheid by skoolgeleenthede onderskat nie.
Hier is ‘n paar praktiese voorbeelde: As u kind gedurig boeke by die huis vergeet wat belangrik vir skoolwerk is, moet u mooi dink of u werklik u kind help deur die boeke agter hom/haar aan te ry. As u kind ongelukkig met ‘n onderwyser is, bemagtig hom/haar eerder om dit self met die onderwyser uit te sorteer voordat u deelneem aan die kritiek teen die onderwyser. Dieselfde geld wanneer daar konflik met vriende is.

Onbetrokkenheid
Spandeer daagliks tyd met u kind en vind uit oor sy/haar dag. Dit is ‘n baie goeie gewoonte vir die hele gesin om ten minste een ete saam aan tafel te sit. Skakel asseblief die televisie gedurende hierdie tyd af en skep geleentheid vir goeie kommunikasie. Soos reeds hierbo genoem, is dit belangrik dat u tyd maak om u kind se aktiwiteite by die skool by te woon. Ouers met druk skedules kan in hul eie dagboek sekere inskrywings maak wat voorrang gee aan u familie, eerder as u werk.

Ons hoop dat hierdie paar idees u kan help. 

Bertus Swanepoel

Wenke aan geskeide ouers

Uit die aard van ons werk as mentors, kry ons dikwels met die uitdagings van egskeiding en die effek daarvan op kinders te doen. Ons deel graag ‘n paar wenke hieroor:

  • Kinders moet weet dat die egskeiding as gevolg van die volwassenes se probleme is. Moet nooit die blaam op die kinders plaas nie.
  • Kinders  moet verbaal van die ouers se liefde aan hulle verseker word.
  • Die kind moet weet dat die keuse om by ‘n sekere ouer te bly, nie ‘n keuse teen die ander ouer is nie en dat dit geen verskil aan die liefde en omgee van die ander ouer beteken nie.
  • Hanteer konflik met die gewese eggenoot direk met die persoon en nie deur u kind nie. Moet asseblief nie toelaat dat die kind moet kies wie reg of verkeerd is nie. Dit is nie hulle verantwoordelikheid nie.
  • Moenie die vorige eggenoot voor die kinders afkraak nie. Weereens, u kind hoef dit nie te weet nie.
  • Ouers moet oor reëls vir die kinders ooreenkom en moet dit konsekwent toepas.
  • Veral die pa’s moet soveel moontlik kontak en belangstelling in die kinders se lewens behou .

Ons hoop dat hierdie paar idees u kan help.

Bertus Swanepoel

Tix (Tieners in Christus)

Een van die eerste waarnemings wanneer jy by die aantreeblad aankom, is die TIX-muur met handtekeninge van huidige en oud-Woeries wat getuig dat hul ons Koning dien en dat geloof die hoofwaarde van ons skool is.

Ons het tradisioneel Woensdae groot-groep-byeenkomste, wat onder andere sang- en lofprysing, sprekers en optredes behels  en  omgeegroepe, waar rondom die Woord en relevante kwessies gesels word. Met voorafgaande  Donderdagoggend word leiersklasse  deur personeel en jeugwerkers aangebied.

Ons uitreike ken geen grense nie.  Besoeke aan ander skole se VCSV-aande, asook wedersydse uitnodigings vir  kuieraande op die oop pawiljoen,  begin ‘n geseënde tradisie vorm. Dan word kuier-en-speel-middae na Bramley-kinderhuis en Rusoord onderneem asook uitreike na Olievenhoutbosch, wat deel van ons Handevat-projek saam met die ATKV is.  Ons gaan om uit te deel, maar ontvang veel meer.

Een van die hoogtepunte in ons TIX-jaar is die aanbied van Jeugpinkster.  Al die skole in Centurion word genooi.

‘n Spesiale Woerie-waardes-week word gehou waar ons aandag aan respek vir mekaar gee en ons versterk ons geloof  deur liefde en omgee vir mekaar.

Die groot kamp jaarliks in September by Die Hoekie is ‘n noodsaaklikheid vir elke voornemende TIX-leier, maar dis ‘n ope uitnodiging ook vir enige Woerie om saam te kom kamp.

Mnr. Barnard en me. King loop voor saam met ‘n  toegewyde TIX-bestuur en –omgeeleiers.