Sport

Krieket 2011

Direkteurswenners vir die derde keer in agt jaar!  Ligawenners vir die vyfde keer die laaste nege jaar. Naaswenners van die Super 15-liga. Dit is die prestasie waarmee Hoërskool Centurion se eerste krieketspan in 2011 spog.

Dit bly merkwaardig  hoe die eerste span van Hoërskool Centurion dit  jaar na jaar vermag om die trofeekas vol te hou. Nadat ons verlede jaar afskeid moes neem van ses matrikulante in die span, het ons vanjaar met ‘n jong span ‘n bouproses begin. Daar was slegs twee matrieks vanjaar in die span!

Tog het ons weereens gekwalifiseer vir die finaal van die Superliga gedurende die eerste kwartaal. Ons het al ons groepwedstryde gewen, maar ongelukkig teen Waterkloof, wat vanjaar ‘n sterk span gehad het, verloor. Na ‘n goeie voorseisoen en harde werk deur al die seuns, het ons die liga met selfvertroue ingegaan. Soveel so, dat Johann Smit die skoolrekord verbeter het vir die meeste lopies gedurende ‘n kalenderjaar. Hy het vanjaar meer as 1500 lopies aangeteken. Armand Wolmarans het ook die rekord sy eie gemaak deur meer as 70 kolwers gedurende die jaar te laat terugstap pawiljoen.

Gedurende die liga het ons nie net bonuspunte  teen nie Eldoraigne en Akasia ingesamel nie, maar ook teen Affies, Pretoria Boys High en Waterkloof! Dit het meegebring dat ons die tweede agtereenvolgende jaar die liga in Gauteng-Noord gewen het. Dit is die eerste keer die eeu dat die skool die liga twee agtereenvolgende jare gewen het. Centurion is ook die enigste skoolspan wat daarmee kan spog dat ons die liga vyf uit die laaste nege jaar kon wen. Geen skool het nog ooit die krieketliga so oorheers nie!

Tydens die uitspele vir die Noordvaaltrofee (die voormalige Direkteurstrofee), wat die ses krieketprovinsies noord van die Vaalrivier insluit, het ons eerstens op ons tuisveld te staan gekom teen Klerksdorp (Noordwes se wenners). Hulle het die loot gewen en eerste gekolf. Ons het hulle uitgehaal vir 180 en die wenlopies gemaklik  met ses paaltjies behaal.

Vir die semi-finaal moes ons Krugersdorp toe ry om teen Monument te gaan speel. Met dreigende weer in die lug, het ons weereens die loot verloor. Monnas is in die laaste boulbeurt vir 245 lopies uitgeboul en ons het ‘n moeilike taak voorhande gehad. Deur vier vroeë paaltjies te verloor vir ‘n skamele 21 lopies op die bord, het nie bygedra tot ‘n kalm gemoedstoestand onder die ondersteuners nie. ‘n Vennootskap van 156 tussen Schalk van Heerden en Ruhan Olivier, het egter die skip op koers gehou en ons kon uiteindelik die wenlopies by wyse van ‘n reuse ses van Pieter Coetzer se kolf behaal, met twee paaltjies tot ons beskikking.

Vir die eindstryd moes ons vanjaar Potchefstroom toe ry om op die PUKKE se velde te gaan speel. Ons opponent was Nelspruit wat, op pad na die finaal toe, Waterkloof en Jeugland uitgeskakel het. Hulle was dus waardige teenstaanders in ‘n spanningsvolle finaal. Weereens het ons die loot verloor en is versoek om eerste te boul. Die boulwerk was baie goed en dit is hier waar ons Nelspruit die onderspit laat delf het. Ons moes 207 aanteken ten einde die Noordvaaltrofee die derde keer die laaste agt jaar staan te maak in ons vertoonkas. Johann Smit het met ‘n skitterende 76 lopies van net soveel balle af, seker gemaak dat die benodigde lopietempo onder beheer bly. Ongelukkig het ons gereeld paaltjies verloor en met sy vertrek het die agterdeur vir die Nellies skielik oopgeglip. Maar aanstaande jaar se kaptein, Ruhan Olivier, het na die paaltjies gestap met vasberadenheid soos in die vorige drie wedstryde en die werk voltooi. Heel gepas het hy die wenlopies met ‘n grenshou aangeteken en is as die man van die wedstryd aangewys. Ons het nog vier paaltjies in die hand gehad.

Die Ibbiesspan het hulself goed gehandhaaf in die B-afdeling van die eerste liga en die belangrike wedstryde gewen wat hulle moes wen, terwyl die 1C-span dieselfde gedoen het in die D-liga. Die junior 1D-span het die F-liga gewen en sal  dus in 2012 opskuif na die E-liga.

Die 0/15A-span het ook in die finaal van die Superliga gespeel, maar moes sonder twee staatmakers, wat by die eerste span gespeel het, klaarkom. Dit het hulle gekortwiek om die finaal te kon wen. Gedurende die derde kwartaal het hulle nie op alle silinders gevuur nie en kon dus nie vir die Noordvaaluitspele gekwalifiseer nie. Die B-span het hulself goed van hul taak gekwyt.

Die eerste krieketspan speel in November 2011 in Potchefstroom teen Nelspruit in hul sesde Direkteursfinaal (deesdae bekend as die Noordvaalkompetisie) die afgelope nege jaar.  Die span vermag dit op grond van die feit dat hul spandinamika gebalanseerd is en hulle ‘n gesonde spangees het.

Nadat ons die liga gewen het, deur met Waterkloof af te reken, het ons ook afgereken met Klerksdorp (in die kwarteindstryd) en Monument (in die halfeindstryd).  Geen ander skool kon al ooit in een dekade meer as vyf keer die prestasie behaal om in finale te speel van die gesogte kompetisie vir alle skole noord van die Vaalrivier nie.  Daarom word daar môre geskiedenis deur die eerste elftal gemaak.

Die eerste keer wat Centurion in die finaal gespeel het, was in 2003, toe die span van Juan Nagel net-net deur Klerksdorp geklop is.  Die volgende jaar het Shaun von Berg se span Alberton High in die finaal getroef deur die eerste keer in die geskiedenis die kompetisie te wen.  Dit is in 2006 herhaal deurdat Juanre van Wyk se span Potch Gimnasium getroef het.  In 2008 het Juan Smith se span teen Waterkloof verloor en verlede jaar het die geskiedenis homself  met Gerrit van Niekerk aan die spits herhaal.  Wian van Heerden se span hoop dus om môre die Noordvaalkompetisie vir die derde keer te wen.

Die span het vanjaar reeds as naaswenners van die Superliga geëindig en het reeds gekwalifiseer om die eerste naweek van 2012 in die kwarteindstryd van die T20-kompetisie te speel.  Gedurende die liga het ons met Affies, Pretoria Boys High, Eldoraigne, Akasia, Garsfontein en Waterkloof afgereken en het slegs teen Menlopark verloor.  Ons het reeds vanjaar 34 wedstryde gespeel, waarvan ons 31 gewen het en slegs drie keer aan die verloorkant was.

Ons wens die krieketspan baie sterkte toe vir môre se belangrike kragmeting.

Die 0/14A-span het derde geëindig in die Gauteng-Noordliga en onder andere met Affies in die proses afgereken. Ons het ‘n goeie groepie junior spelers, wat hope belofte vir die toekoms inhou. Beide die 0/15’s en 0/14’s het hul poelwedstryde in die T20-kompetisie gewen en gekwalifiseer vir die semi-finale. Ongelukkig het albei spanne  teen Waterkloof verloor en die finaal dus misgeloop.

Die jaar 2011 was dus ‘n jaar waarop ons met trots kan terugkyk. Die invloed van die binnemuurse nette en die Inside Akademie kan ook nie ligtelik opgeneem word in die suksesverhaal wat krieket as sportsoort beleef nie. Om beide die liga en die Noordvaal te wen is nog nooit voorheen vermag nie.

Johann Smit en Bernhard Beukman is vir die 0/17-span gekies, terwyl Wian van Heerden die 0/19B-span en Kyle Melis die 0/17B-span sal verteenwoordig. Baie sterkte aan hierdie spelers vir die Nasionale weke vanjaar.

[nggallery id=29]