Sport

Krieket 2013

Die eerste krieketspan het vandeesweek hul kragmeting teen AHS met ses paaltjies gewen, ten einde steeds te kan kwalifiseer vir die “Gunn & Moore”-Noordvaal-kompetisie se uitspele.

AHS het die loot gewen en nie gehuiwer om eerste te kolf nie.  As gevolg van ongedissiplineerde boulwerk aan weerskante van die paaltjies, het AHS die dag afgesluit op 226/6 in hul toegelate 50 boulbeurte.

Centurion is die taak gestel om die volgende middag 227 aan te teken, maar kon slegs 80/3 bereik met die aanbreek van die koeldrankbreuk na 25 beurte.  Schalk van Heerden (96* van 90 balle) het ‘n ware kapteinsbeurs gespeel na die breuk en sy honderdtal net-net misgeloop.  Hy is veral goed bygestaan deur Hendrik Mulder (40*) en Jeandré Olivier (29*).

Die wenteiken is dus in die 45ste boulbeurt behaal met ‘n trekhou van Schalk waar lugfoto’s van die grenstou geneem is.  Centurion het steeds ses paaltjies in hand gehad.  Hulle speel Saterdag teen Garsfontein in die laaste ligabepaling.

Die provinsiale spanne is aangewys en ons is trots op die volgende drie seuns wat ons gaan verteenwoordig op die

Nasionale weke:
Jeandré Olivier – O/19
Stefan Klopper – O/19
Schalk van Heerden – O/17


Mnr. J. Cloete is vir die  tweede keer deur Krieket SA as die “Skeidsregter van die jaar” aangewys.

Die eerste krieketspan het vir die sesde keer die laaste agt jaar die Finsbury- superliga  vir skole noord van die Vaalrivier gewen deur Waterkloof met twee lopies te troef.  In die wedstryd wat vroeër deur reën tot 42 beurte per span verkort is, het Waterkloof die lot gewen en ons versoek om eerste te kolf.
Hulle het die toestande tot hulle voordeel gebruik en ons was in die moeilikheid op 35/5. Stef Klopper (52), Brandon Battersea (32) en Divan Jonck (40) het egter nie tou opgegooi nie en ons tot ‘n mededingende telling van 216 geneem.  Nadat Waterkloof beperk is tot 214, was die telling genoeg om die trofee vir die vyfde keer die afgelope ses jaar te verower.  Vyf van hierdie ses finale wedstryde was teen Waterkloof en in 2010 was Klerksdorp die teenstander.

Die eerste span skop hulle ligabepalings Saterdag op tuisbodem af wanneer ons Wonderboom hier ontvang.  Aanstaande Saterdag speel ons weg teen Pretoria Boys High.
Die B-krieketspan het seker gemaak dat hulle hul posisie in die B-afdeling behou deur Oos-Moot se eerste span met ‘n bonuspunt te troef.  Ons het Oos-Moot met slegs 135 gewen.  Nathan Olivier (38) en Francois Roos (45) het seker gemaak dat die telling voor die 40ste boulbeurt verbygesteek word en sodoende die belangrike bonuspunt verwerf.