Die Noord-Suid T20 skolekrieketoernooi, met AB de Villiers as die ambassadeur, vind eerskomende naweek in en om Pretoria plaas. Sestien skole van regoor Suid-Afrika gaan in twee afdelings op die veld teen mekaar te staan kom. Die algehele wenspan sal prysgeld van R50 000 impalm vir hul skool om in krieket te belê.

Die agt Suidspanne is Bishops Diocesan College, SACS, Wynberg Boys’ High en Paarl Gimnasium uit die Kaap; St Andrew’s College van Grahamstad; en Westville Boys’ High, Northwood School en Glenwood High School van KwaZulu-Natal.

Die Noorde word verteenwoordig deur Hoërskole Centurion, Menlopark en Waterkloof van Pretoria; Volkskool in Potchefstroom; Hoërskole Nelspruit en Rustenburg; Grey College van Bloemfontein en Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley.

Volgens Zahn Hulme van die Atterbury Trust, een van die borge, is die toernooi gebore omdat daar gevoel is dat daar nie genoeg geleenthede in die voorseisoen vir die krieketspelers van die topskole om teen mekaar mee te ding nie. “Ons glo baie sterk in die skep van geleenthede, en hierdie unieke toernooi maak dit moontlik vir spelers uit verskillende streke en agtergronde om vir ’n paar dae ’n opbouende fees van krieket te deel, en bande te smee wat toekomswaarde vir elkeen kan hê.” Die spanne sal almal tuisgaan by Camp Discovery, waar daar allerhande aktiwiteite en netwerk-geleendhede gaan wees om die jongklomp ook ná krieketure besig te hou.

Die toernooi se unieke formaat van spanne uit beide die noorde en die suide van die land (asook die platteland), is ook hoekom WEBUYCARS en Atterbury Trust graag as borge aan boord is. “Ons is albei maatskappye wat landwyd ’n teenwoordigheid het, en ons glo beide dat dit in Suid-Afrika grootliks van die privaatsektor afhang om sulke geleenthede vir die jeug te skep,” sê Faan van der Walt van WEBUYCARS. Die ander borge is WAD Holdings, Attacq, Vibro en KingPrice.

“Dit is lekker om vir jong krieketspelers van regoor die land die kans te gee om in die gewilde T20-formaat hul wedstrydspiere te oefen sodat hulle wanneer die seisoen begin, hulle reg is om hul beste te lewer,” meen Joe Cloete, van Hoërskool Centurion wat saam met Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof verantwoordelik is vir reëlings agter die skerms.

Die toernooi vind van 21 tot 24 September plaas en gaan ’n jaarlikse instelling word. Twee Noord-spanne en twee Suid-spanne sal elk van vier groepe verteenwoordig in die aanvanklike indeling. Elke span sal ses T20 wedstryde speel – drie groepwedstryde en daarna sal elke groep se top twee spanne in die uitspeelrondtes in ’n kwarteindstryd, halfeindstryd en eindstryd speel.

Die algehele prysgeld van R100 000 maak benewens die groot prys vir die wenskool ook voorsiening vir kontantpryse vir die spanne wat die tweede en derde plekke behaal, asook vir die Plaatafdeling se

wenners. IXU, saam met Puma is produkborge wat wedstrydballe, daaglikse pryse vir uitblinkers en klere borg. Die wedstryde vind plaas by Tuks, Camp Discovery, CBSOB, PBHOB en by hoërskole Waterkloof, Menlopark, Centurion en Hammanskraal.

Toeskouers sal gratis kan kom kyk, en vir diegene wat nie by die velde kan uitkom nie, sal twee wedstryde daagliks deur Pitchvision lewendig gestroom word op die internet. Vir meer inligting oor wedstrydtye en velde, hou die toernooi se Facebookblad @NoordSuidT20Skolekrieket.

🏏 Baie sterkte aan die krieketseuns, mnr. J.Cloete en die betrokke afrigters, mag julle die naweek net julle beste lewer!🏏