Shaun von Berg is die derde Protea-krieketspeler wat Hoërskool Centurion die afgelope 6 jaar opgelewer het. Hy is pas ingesluit in die toetsgroep wat twee toetse in Sri Lanka gaan speel gedurende Julie. Shaun is een van drie draaiboulers wat deur die keurders vir die groep gekies is. Sy insluiting volg op dié van Dane van Niekerk (Protea-kaptein) en Duanne Olivier, wat almal hul krieket op Centurion se sportvelde begin het.

Alhoewel Keshrav Maharaj die nommer een keuse sal wees, is die aanduidings daar dat Suid-Afrika graag ‘n tweede draaibouler sal wil kies vir die toestande in Sri Lanka, wat draaiboulwerk bevoordeel. Die ander draaibouler in die groep is die linkshandige Tabraiz Shamsi, wat veral in die korter weergawes van die spel sy stempel afgedruk het. Shaun se uitstekende kolfwerk kan verder in sy guns tel, deurdat hy die kolflys sal verstewig met sy insluiting. Dan is hy boonop ‘n briljante veldwerker op die koop toe!

Shaun het die Eerstespan in 2004 en 2005 aangevoer en is die eerste kolwer wat meer as 3 000 lopies vir die eerste span aangeteken het. Hy was destyds slegs die vierde speler wat die Eerstespan in meer as 100 wedstryde (137) kon verteenwoordig.

Dit is egter as bybreekbouler wat hy sy naam gemaak het en daardeur die 0/19 Coca-Colaweekspan vir drie agtereenvolgende jare gehaal het. Hy is die enigste bouler tot dusver wat 200 van die opposisie se kolwers laat terugstap het kleedkamer toe. Sy beste boulsyfers het hy teen Monument gedurende die 2004 Gunn & Moore Noordvaal kwarteindstryd behaal, deur 8/15 in sy toegelate 10 beurte te neem en daardeur sy span te help om hul eerste Noordvaaltrofee in te palm.