Toere

Verbruikerstudietoer na Thailand en Maleisië

Op 25 Junie 2011 het me. Heyns met veertien opgewonde Woeries en drie ouers vanaf die OR Thambo Lughawe na Bangkok, Thailand, vertrek.

Die hoofrede vir die toer was om die leerders bloot te stel aan verskillende kulture se leefwyses en eetgewoontes.  Twee kookskole is besoek, waar die leerders die geleentheid gehad het om self Thaise disse voor te berei en te nuttig.  Hierdie was werklik ‘n ongelooflike belewenis.  Elkeen het ook ‘n sertifikaat as bewys van voltooiing van die kursus ontvang.

Bangkok is ‘n baie besige stad en die toergroep het die stadsverkeer beleef.  Hier het die leerders die geleentheid gehad om verskeie inkopiesentrums, onder andere die Big C en die MBK-sentrum te besoek.  Hulle het hulle gate uit geniet om hier te koop omdat alles so goedkoop is.  Die Grand Palace met al sy goudafwerkings was pragtig.  Een van die hoogtepunte van die toer was die rit in ‘n Tuk-Tuk deur die besige strate van Bangkok.  Die stad is ook op ‘n “Long Tail Boat”-ekskursie op die kanale om die stad, verken.  Gedurende heirdie vaart is daar by die Wat Pra Kaew, ‘n pragtige tempel met vreeslike steil trappies aangedoen.

Natuurlik is pret en plesier ook deel van so ‘n toer.  Vanaf Bangkok het hulle ‘n oornag treinrit na Chaing Mai beleef.  Daar het hulle die Wat Pra Thad Doi Suthep Tempel, die “Night Bazaar” en ‘n olifantrit in die woud beleef, Bamboo Rafting aangedurf en verskeie handwerknedersettings besoek.

Vanaf Chaing Mai het hulle per vliegtuig na Phuket vertrek. Hulle het met ‘n luukse boot die Phi Phi-eilande besoek, waar hulle lekker kon snorkel en langs die strand ontspan.  Hulle het ook die geleentheid gehad om die bekende “FantaSea Show” by te woon.  In die aande het hulle hul vrye tyd gebruik om te koop, masserings te kry en ook sommer net lekker in die hotel se swembad te ontspan.

Die laaste plek wat besoek is, was Kuala Lumpur in Maleisië.  Daar was die hoogtepunt definitief die besoek aan die Genting Highlands, die hoogste pretpark in die wêreld.  Hulle het ook die Batu Caves besoek, wat hulle kennis oor die Hindu-geloof verbreed het.

Baie moeg en laat die aand van die sesde Julie, het hulle na Johannesburg teruggekeer.  Na ‘n veertien-uurvlug kon hulle sesuur die oggend van die sewende weer hulle voete op Suid-Afrikaanse bodem neersit.

Baie dankie aan elkeen wat hierdie toer moontlik gemaak het.  Dit was voorwaar ‘n belewenis en ‘n belegging in elkeen se lewe wat niemand kan wegneem nie.

[nggallery id=7]