Akademie Banners White

Hoërskool Centurion staan bekend as die skool van uitnemendheid; of dit nou verwys na top akademiese personeel of leerders se akademiese prestasies wat wye erkenning geniet.

Die personeel is betrokke by verskeie akademiese liggame en ons leerders kry wyd erkenning in publikasies, kunswedstryde en in die koerante met ons graad 12-uitslae.

 

Hoërskool Centurion het selfs ‘n Ultimum Ludum trofee vir die leerders wat deur die jaar die beste akademies verbeter het.

 

Omdat ons ‘n familieskool is, is ons klasse kleiner en kry leerders beslis meer kontaktyd met personeel. U kind en sy / haar akademiese vordering is ons eerste prioriteit.

 

 

Ons het ook ‘n sterk tegniese been by die skool met vakke soos Tegniese Wiskunde, Tegniese Wetenskappe, Meganiese Tegnologie, Elektriese Tegnologie en Ingenieursgrafika en -ontwerp.
Die gebruik van tegnologie in die klaskamer het algemene gebruik geword by Hoërskool Centurion. U kind gaan na skool blootgestel word aan ‘n wêreld wat anders lyk as die tradisionele klaskamer. Ons poog om u kind bloot te stel aan ‘n wye verskeidenheid van tegnologiese vaardighede wat jou kind beter sal voorberei om aan te pas in ‘n toenemend veranderende wêreld.

 

Hoërskool Centurion se akademiese program het vir elke kind ‘n plekkie onder die son. Word deel van die Woerie-kampus.

Hoërskool Centurion, Highschool Centurion

Mnr. D.D Barnard
d.barnard@hscenturion.co.za

Wat is akkomodasies?

Akkommodasies is maatreëls om die impak van leerprobleme te minimaliseer.

Voorbeelde van akkomodasies?

Voorbeelde van akkommodasies is byvoorbeeld: ekstra tyd, grootdrukvraestelle, lesers en/of skrywers.

Ekstra klasse

Kan by die toepaslike departementshoof aangevra word.

Vakkeuses-Banners White
‘N SINVOLLE VAKKEUSE BEHELS DIE VOLGENDE:
  • Voldoende kennis van die keusemoontlikhede.
  • Die bestudering van die inhoud van vakke en beroepsmoontlikhede.
  • Realistiese en objektiewe oorweging van u kind se aanleg en vermoë. U kind se rapport sal ‘n goeie aanduiding wees van sy/haar belangstelling en vermoë.
  • Die vakkeuse vir graad 10 tot 12 kan nie aan die kind alleen oorgelaat word nie.  Dit is die ouer se verantwoordelikheid om leiding te gee en saam met die kind ‘n besluit te neem. 
DIE ONDERWYSSTELSEL

Leerders is volgens wetgewing skoolpligtig tot in graad 9.  Die Verdere Onderwys en

Opleiding fase begin in graad 10 en die keuse van die vakke wat u kind van graad 10 tot 12 wil neem, moet nou gemaak word.

DIE VAKKEUSE VIR GRAAD 10 TOT 12

Inligting wat hier voorsien word, het betrekking op Hoërskool Centurion, maar dit is volgens die beleid vir Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) soos vervat in die Kurrikulum en Assesseringsverklarings graad 10 tot 12.

DIT IS BELANGRIK OM DIE VOLGENDE IN AG TE NEEM:

Agtste en negende vakke is wel toelaatbaar teen ekstra betaling, maar die keuse is beperk en onderhewig aan die belangstelling. As ‘n ekstra vak oorweeg word, moet dit vanaf graad 10 geneem word.

Om vir toelating tot universiteit te kwalifiseer, moet u kind ten minste 4 vakke hê waarin hy/sy ten minste 50% in matriek moet behaal.

 

Meganiese Tegnologie en Elektriese Tegnologie mag nie saam geneem word nie. Wanneer u kind Elektriese Tegnologie of Meganiese Tegnologie as ‘n vak kies dan MOET hy/sy Ingenieursgrafika en –ontwerp saam met Wiskunde/Tegniese Wiskunde en Fisiese Wetenskappe/Tegniese Wetenskappe neem.

D.w.s. die kind wat ‘n Tegniese vak kies se vakke moet die volgende wees: Afrikaans, Engels, Lewensoriëntering, Wiskunde/Tegniese Wiskunde, Fisiese Wetenskappe/Tegniese Wetenskappe, Meganiese Tegnologie/Elektriese Tegnologie, Ingenieursgrafika en –ontwerp.

Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskappe se moeilikheidsgraad is byna dieselfde as gewone Wiskunde en Fisiese Wetenskappe met verskillende fokusareas.

 

Leerders word toegelaat om in graad 10 vakke te verander, maar in graad 11 moet die skool oortuig wees dat dit in die kind se beste belang is en kan dit slegs met goedkeuring van die Departement van Onderwys geskied.

Leerders wat aan ‘n wiskundige disfunksie, soos Dyscalculia ly, mag onder sekere omstandighede en die nodige bewyse, toegelaat word om van Wiskundige Geletterdheid vrygeskeld te word. ‘n Bykomende keusevak moet dan gekies word.

 

Die aanbieding van alle keusevakke binne skoolverband is onderhewig aan die hoeveelheid leerders wat die vak kies. Indien te min leerders die vak kies, sal dit nie binne skoolverband (rooster) aangebied kan word nie.

 

Fisiese Wetenskappe mag net saam met Wiskunde geneem word. Sekere vakke se moeilikheidsgraad en inhoud is van so ‘n aard dat die skool ‘n paar aanbevelings wil maak om u te help met die vakkeuses. Dit is egter nie voorskriftelik nie, maar die verlede het al baie tendense uitgewys waarvan ons u wil bewus maak. Oorweeg dus asseblief die volgende: As u kind nie in graad 9 ten minste 50% vir Wiskunde behaal nie, gaan die volgende vakke moontlik ‘n probleem wees in die senior fase: Wiskunde, Tegniese Wiskunde, Inligtingstegnologie, Rekeningkunde, Fisiese Wetenskappe, Tegniese Wetenskappe en Elektriese Tegnologie.

ALGEMENE OPMERKINGS
  • Géén differensiasie ten opsigte van vlakke word meer gemaak nie – daar is nie ‘n onderskeid tussen hoërgraad en standaardgraad nie.
  • Minstens 30 leerders moet ‘n vak kies alvorens dit aangebied sal word.
  • Vakke wat in graad 9 gedruip is, moet verkieslik nie as keusevakke in Groep B oorweeg word nie.
  • Indien ‘n leerder Wiskunde in graad 9 druip, moet Wiskundige Geletterdheid in graad 10 geneem word.
  • Rekenaarverwante vakke wat gekies kan word, is Inligtingstegnologie (IT) en Rekenaartoepassingstegnologie (RTT).
  • Inligtingstegnologie fokus op die oplos van probleme deur middel van programmering (Delphi), die opstel van ‘n databasis en aspekte soos e-kommunikasie, mens-rekenaar-interaksie, sosiale implikasies van die rekenaar, nuwe tegnologie, ensovoorts. Dit word sterk aanbeveel vir leerders wat ingenieurswese wil gaan studeer. Die keuse van IT as vak is onderhewig aan keuring op grond van akademiese prestasie in graad 9, spesifiek in Wiskunde. 
  • Rekenaartoepassingstegnologie fokus op die hantering van inligting en oplos van probleme deur die gebruikmaking van toepassingspakkette (Word, Excel, Access, Frontpage, ensovoorts). Teoreties word hier aandag geskenk aan die volgende onderwerpe: hardeware, sagteware, netwerke, rekenaarsekuriteit en rekenaaretiek.
  • Inligtingstegnologie sowel as Rekenaartoepassingstegnologie mag gekies word.
  • Leerders wat Inligtingstegnologie kies, is verplig om Wiskunde en nie Wiskundige Geletterdheid te neem nie.
  • Wiskunde (en nie Wiskundige Geletterdheid nie) word vereis indien Fisiese Wetenskappe, Inligtingstegnologie of Ingenieursgrafika en -ontwerp gekies word.
  • Vir Ingenieursgrafika en -ontwerp word Wiskunde sterk aanbeveel.
  • Naas Lewensoriëntering, Wiskunde of Tegniese Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid, Afrikaans Huistaal en ‘n eerste addisionele taal wat verpligtend is, kies elke leerder nog drie vakke uit die lys van moontlikhede, met die voorbehoud dat dit op die leerder se rooster inpas en dat daar genoeg belangstelling in die vak is om dit lewensvatbaar vir aanbieding te maak.
ONTHOU:
  • Jy kies nie nou ‘n beroep nie.
  • Kies ‘n vakpakket wat geleenthede vir die toekoms kan bied.
  • Elke individu se belangstellingsveld moet in ag geneem word.
  • Indien die aanleg nie sterk is nie (kyk na vakkeuse-assessering) en spesifieke vakke is nodig vir toekomsstudie, moet die leerder ekstra hard werk, met moontlike ekstra klasse.
  • As daar reeds ’n belangstelling in ’n beroepsveld is, gaan kyk in tersiêre instansies se jaarboeke wat die studiekursus se vereistes is.
  • As daar reeds ’n belangstelling in ’n beroepsveld is, gaan doen vroeg genoeg skaduwerk by ’n firma om seker te maak dit is werklik die loopbaan wat gevolg wil word.  (In gr. 11 en 12 is daar te min tyd om skaduwerk te doen.)
  • Op die volgende skakel het die Universiteit van Pretoria, ‘n baie nuttige brosjure rakende vakkeuses vir graad 10.  http://www.up.ac.za/af/juniortukkie/article/2208963/grade-10-subject-choices
Vakke-Banners White
VAKKE WAT AANGEBIED WORD BY HOËRSKOOL CENTURION

TALE

AFRIKAANS

Afrikaans

Dit is ‘n vak wat vir universiteitstoelating tel.

 

BENADERINGSWYSE

Die fokus val op die vaslegging en uitbreiding van taal en geletterdheid en word deur prestasie-omskrywings gerekordeer. Drie groot afdelings naamlik lees, praat en skryf word onderskei, maar dit word met mekaar geïntegreer.

 

VAKAKTIWITEITE

Nasionale Afrikaans-olimpiade, verskeie ander skryfkompetisies, Afrikaans-ekspo en ander vakverwante aktiwiteite wat redenaars en debat insluit.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Vertaler, tolk, diplomaat, joernalis, radio- en TV-kopieskrywer, onderwyser, reklamewese, kommunikasie, buitelandse inligtingsdiens, skakelbeampte.

ENGELS

English first additional language

This is a subject for university exemption.

 

APPROACH

We teach mainly communicative skills, with the emphasis on speaking, reading, writing and listening in curriculum context and continuous assessment. The main categories are oral [listening, speaking, reading], language structures, visual literacy, comprehension, literature, poetry and creative and functional writing.

 

SUBJECT ACTIVITIES

Public speaking, creative writing competitions.

 

CAREER POSSIBILITIES

Translator, interpreter, editor, copywriter, proof-reader, journalist, advertising, radio or TV presenter, writer, communications, teacher, tourist guide, playwright, actor.

DUITS

Duits tweede addisionele taal

TOELATINGSVEREISTES

Geen: Leerders het geen agtergrond nodig om die vak te vat nie.

 

BENADERINGSWYSE

Duits is ‘n meer komplekse taal as Afrikaans, maar duidelik familie, want die woordorde is dieselfde en die klanksisteme is baie eenders. Leerders moet ‘n taalaanleg hê, omdat hulle ‘n nuwe woordeskat en grammatika binne drie jaar moet aanleer. Verder moet hulle aanvaar dat dit harde werk verg om ‘n nuwe taal te leer lees, skryf en praat, veral omdat hulle nie daagliks daarmee in kontak kom nie.

 

Die voordele is egter legio. Nie net brei dit kommunikasiemoontlikhede uit nie, dit skep ook meer en beter werksgeleenthede. Selfs al kan ‘n persoon nie vlot Duits praat nie, is daar talle Duitse maatskappye soos Siemens en BMW waar kennis en verstaan van die taal ‘n sterk aanbeveling is. Sommige prokureursfirmas wat Duitse kliënte het, verkies klerke en vennote wat Duits tot ‘n mindere of meerdere mate magtig is. In die mediese veld is dit ‘n bate, byvoorbeeld as iemand vir Doctors Without Borders wil gaan werk. Die Britse weermag stel ook ‘n derde taal as vereiste.

 

Duits is ‘n interessante en uitdagende vak en boonop groot pret.

 

Deutsch macht Spaβ!

WISKUNDE

WISKUNDE OF TEGNIESE WISKUNDE OF WISKUNDIGE GELETTERDHEID

Een van bogenoemde moet geneem word. Die standaard van Wiskunde het baie verhoog.

 

 

As ‘n leerder Wiskunde aan die einde van graad 9 druip (slaagvereiste 40%), sal Wiskunde nie in graad 10 geneem kan word nie. ‘n Leerder sal in graad 10 toegelaat word om na afloop van ‘n eksamen vanaf Wiskunde na Wiskundige Geletterdheid of Tegniese Wiskunde te verander, maar ‘n skuif van Wiskundige Geletterdheid na Wiskunde sal onmoontlik wees. Tegniese Wiskunde word aanbeveel vir leerders wat sukkel met Wiskunde, maar wel ‘n Tegniese pakket het. Tegniese Wiskunde het nou ook `n PAT afdeling.

 

Wiskundige Geletterdheid word aanbeveel vir ‘n leerder wat nie Wiskunde vir studie- of beroepsdoeleindes benodig nie. Met Wiskundige geletterdheid kry jy steeds vrystelling vir Universiteite, net meer beperkte rigtings.

WISKUNDE

Wiskunde

Probleemoplossing is die sentrale fokus in die onderrig en leer van Wiskunde met die spesifieke doelstellings: die ontwikkeling van die vermoë om logies te redeneer, te veralgemeen, te verbesonder, te organiseer, analoë te trek en te bewys, asook die ontwikkeling van insig in ruimtelike verwantskappe en meting. Slaagvereiste: 30%.

 

‘n Liefde en werksetiek word doelbewus vir die vak gekweek.

 

VAKAKTIWITEITE

Olimpiade, Ekspo vir jong wetenskaplikes.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

‘n Persentasie van ongeveer 70% vir Wiskunde is ‘n voorvereiste vir verdere studie in ingenieurswese, medies, tandheelkunde, veeartseny, natuurwetenskappe, rekenaarstudie, statistiek, sekere landbouwetenskappe, boukunde, tegnika, aptekerswese, ens.

TEGNIESE WISKUNDE

Tegniese Wiskunde

Die vak Tegniese Wiskunde in die verdere onderwys- en opleidingsbaan smee die skakel tussen die senior fase en die hoёr/tersiêre onderwysbaan. Alle leerders wat deur hierdie baan gaan, word toegerus met ‘n werkende kennis van Tegniese Wiskunde wat hulle in staat stel om sin te maak van hul tegniese veld van studie en hul plek in die samelewing. Dit verseker toegang tot uitgebreide studie van tegniese wiskundige wetenskappe en ‘n verskeidenheid loopbane.

 

U sal leer hoe om wiskundige metodes toe te pas in die berekening van dinge soos piekstroom in ‘n wisselstroomnetwerk, sowel as integrasie en differensiasie – dit beteken ook om te weet hoe om gedeeltelike breuke toe te pas. Met ander woorde, dit is suiwer Wiskunde op ‘n praktiese manier.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

As u in ‘n ambag belangstel, dan is Tegniese Wiskunde die beste vir u. Hierdie vorm van Wiskunde berei leerders voor vir loopbane soos ‘n elektrisiën, monteerder, draaier, loodgieter, ens.

WISKUNDIGE GELETTERDHEID

Wiskundige Geletterdheid

Die bevoegdhede wat ontwikkel is deur Wiskundige Geletterdheid laat individue toe om sin te maak van, deel te neem in en by te dra tot die wêreld van die een-en-twintigste eeu – ‘n wêreld wat gekenmerk word deur getalle, argumente gebaseer op getalle en data wat op verskillende maniere voorgestel en verdraai is. Sulke bevoegdhede sluit in die vermoë om te kan redeneer, besluite te kan neem, probleme te kan oplos, hulpbronne te kan bestuur, inligting te kan interpreteer, lyste van gebeurtenisse te kan maak en die gebruik en toepassing van tegnologie. Leerders word blootgestel aan beide wiskundige inhoud en lewensgetroue konteks om hierdie bevoegdhede te ontwikkel. Slaagvereiste: 30%.

ALPHA WISKUNDE

Alpha Wiskunde

Presteer jy in Wiskunde? Alpha Wiskunde is ‘n vak wat vir drie jaar aaneenlopend aangebied word aan leerders met ‘n besondere belangstelling in Wiskunde. Indien jy daaraan dink om verder te studeer in ‘n studierigting soos ingenieurswese, statistiek, analise, toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap of aktuariële en handelsrigtings, moet jy dit ernstig oorweeg.

 

Die prestasie behaal in graad 12 word nie op die GDO-sertifikaat geplaas nie. ‘n Addisionele sertifikaat word wel uitgereik en is van onskatbare waarde vir verdere studie in die wiskunde- en wetenskapwêreld.

 

Die klasse word privaat aangebied deur me. I. Jacobs. Handboeke is beskikbaar.

Rekeningbesonderhede sal tydens die eerste klas aan leerders wat vir die vak inskryf, gegee word. As Wiskunde jou passie is, sal Alpha Wiskunde jou bekendstel aan ‘n hele nuwe Wiskunde-wêreld.

WETENSKAPPE

FISIESE WETENSKAPPE

Fisiese Wetenskappe

Hierdie vak bestaan uit twee afdelings naamlik Fisika en Chemie. Wiskunde is verpligtend wanneer leerders hierdie vak kies.

 

Leerders doen self twee eksperimente, een uit elke afdeling, per jaar. Hierdie eksperimente dra by tot die jaarpunte van die leerders.

 

In graad 10-12 koop leerders self hulle handboeke, wat ‘n werksboek is, aan. Dit is aparte werksboeke vir Fisika (boek 1) en Chemie (boek 2).

 

Die volgende onderwerpe word in Fisika onderrig:

  • Meganika, Golwe, klank en lig, Arbeid, energie en drywing, Elektrisiteit en magnetisme en Optiese verskynsels

 

Die volgende onderwerpe word in Chemie onderrig:

  • Organiese en anorganiese chemie en Energie veranderinge tydens chemiese reaksies

 

Vir die meeste studierigtings waarvoor Fisiese Wetenskappe benodig word, is daar keuringsvereistes om aan ‘n Universiteit te studeer.

 

Beroepsmoontlikhede

Mediese beroepe:

 

  • Mediese dokter, veearts, tandarts, arbeids- en fisioterapeute
  • Beroepe in natuur- en landbouwetenskappe
  • Ingenieurswese
  • Optometrie
  • Lugvaart
  • Onderwys in Fisiese Wetenskappe
LEWENSWETENSKAPPE

Lewenswetenskappe

In Lewenswetenskappe word die natuur bestudeer – van die kleinste bakterie tot by die grootste soogdiere! Ons kurrikulum dek baie modules, wat plant- en dierweefsels, die geskiedenis van lewe op aarde, menslike organe en vele meer insluit.

 

Wat Lewenswetenskappe lekker maak, is loer onder die mikroskoop, die hart- en nierdiseksies en uitstappies wat per geleentheid plaasvind. Praktiese modelle van organe en skelette in die klaskamer maak dat die vak letterlik tasbaar vir die leerder is. 

 

Alhoewel Lewenswetenskappe hoofsaaklik ‘n leervak is, probeer ons die leerders toerus met die basiese konsepte van hulle leerwerk, sodat hulle kan verstaan wat hulle leer. Ons beoog ook om vir ons leerders ‘n liefde vir die natuur te kweek.

Lewenswetenskappe tel vir universiteitstoelating en kan jou besonder baie help as jy belangstel om naskool met mense, diere of in die natuur te werk. 

 

Die lewe begin met Lewenswetenskappe!

 

Beroepsmoontlikhede:

Enige mediese wetenskappe, soos geneeskunde, snykunde, tandheelkunde, fisioterapie, arbeidsterapie, optemetrie, spraakterapie, ens. Landbouwetenskappe, patologie, veeartseny, veekunde, biokenetici, omgewingbestuur, natuurbewaring en navorsing is nog van die vele beroepe waarin ‘n leerder kan gaan.

TEGNIESE WETENSKAP

Tegniese Wetenskappe

Die doel van Tegniese Wetenskap is om leerders te ondersteun in die twee fokusareas van Tegnologie. Dit is Meganiese Tegnologie en Elektriese Tegnologie.

 

Leerders wat Tegniese Wetenskap as vak neem, sal Tegnologie met wetenskaplike kennis kan integreer. Tegniese Wetenskap spreek die behoeftes van die industrie aan en bevorder vaardigheidsontwikkeling in die velde van Tegnologie. Dit maak dit vir leerders moontlik om makliker toegang te verkry tot toegepaste tegnologie kursusse by Technikons en Entrepreneuriese geleenthede.

 

Vaardighede wat deur Tegniese Wetenskap ontwikkel word, sluit die volgende in:

klassifiseer, kommunikeer, meet, ontwerp, ondersoek, teken, evalueer gevolgtrekkings, formuleer modelle, identifiseer en kontroleer veranderlikes, observeer en vergelyk interpreteer, voorspel, probleemoplossing, praktiese toepassings en observeer simulasies.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Beroepsmoontlikhede korreleer met die van tegniese vakke.

REKENAARWETENSKAPPE

(RTT) REKENAARTOEPASSINGSTEGNOLOGIE

REKENAARTOEPASSINGSTEGNOLOGIE (RTT)

TOELATINGSVEREISTES
Geen.

BENADERINGSWYSE
Die vak handel oor die effektiewe gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie vir ‘n eindgebruiker in ‘n rekenaartoepassingsomgewing, in verskillende sektore van die samelewing. Die inhoud dek teoretiese sowel as praktiese aspekte van die rekenaar en sy gebruike asook die invloed van die tegnologie op die mens en sy omgewing. Die programme, Word, Excell, Access, Powerpoint  en HTML word gebruik om die leerders te help om in ‘n kantooromgewing werk met ‘n rekenaar te doen. Ons gebruik die Microsoft-Office 2016 pakket.

BEROEPSMOONTLIKHEDE
RTT bemagtig die leerders met kennis en vaardighede om op verskillende vlakke inligting te versamel, te ontwerp en te kommunikeer.  Alle instansies vereis rekenaarvaardighede.  RTT gee die agtergrond om ‘n databasis te bou en te onderhou, die kennis om ‘n finansiële oplossing te skep vir ‘n rekenkundige beroep.  Met die nuwe kurrikulum kan jy selfs webontwikkeling doen. Dit is dus ‘n vak wat jou reeds toerus om verskillende pakkette geïntegreerd te gebruik en kom handig te pas by die inhandiging van take tot op universiteitsvlak en later in die werksomgewing.

(IT) INLIGTINGSTEGNOLOGIE

INLIGTINGSTEGNOLOGIE (IT)

OOR DIE VAK

IT kan deure vir die toekoms oopmaak!  IT is ‘n dinamiese en bruikbare vak. Inligtingstegnologie strek tot die leerder se voordeel indien hulle dit oorweeg om in een van die volgende rigtings te sudeer:

  • Ingenieurswese
  • Informasietegnologie
  • B.Comm (Rek)
  • Argitektuur
  • Grafiese Ontwerp

Dit is ook ‘n vak waar leerders ‘n vaardigheid aanleer waarmee hulle vir werk kan aansoek doen.


KURRIKULUM

Die inhoud van die vak behels 4 komponente, naamlik


1) Teorie:

Dit behels die werking van die rekenaar (apparatuur en programmatuur), e-kommunikasie, netwerke en die verantwoordelike gebruik van tegnologie in die alledaagse lewe.


2) Programmeringsvaardigheid:

 Leerders leer programmeer. Die opleidingstaal wat gebruik word is Delphi. Ons gebruik ook SQL om databasisse te manipuleer.

Inligtingstegnologie-leerders word toegerus met die basiese konsepte van programmering. Wanneer leerders dan na skool op universiteitsvlak programmeringsvakke moet neem, vind hulle dit makliker om die konsepte in ander programmeringstale toe te pas.


3) Die PAT taak

Dis ‘n programmeringsprojek wat in kwartaal 3 en 4 gedoen word en tel 25 % van die finale punt vir die jaar. Dit sal ‘n beduidende hoeveelheid van die leerder se tyd en aandag verg.


4) Microsoft Office pakette:

Ons werk met MS Word, MS Excel en MS Access.


TOELATINGSVEREISTES

Die leerder wat hierdie vak kies, moet ‘n goeie punt in Wiskunde in graad 9 kry. Dit is ‘n goeie maatstaf om te bepaal of dit binne sy/haar belangstelling val.

EKONOMIESE WETENSKAPPE

BESIGHEIDSTUDIES

BESIGHEIDSTUDIES

TOELATINGSVEREISTES

Geen.

 

BESIGHEIDSTUDIES BEHELS BYVOORBEELD:

Hoe om ‘n sakeplan op te stel.

Hoe om jou eie onderneming te begin.

Verskillende tipe ondernemingsvorme en hoe dit opgerig word.

Watter wette jou as entrepreneur raak.

Wat etiese en professionele gedrag is.

Wat kreatiewe probleemoplossing is.

Wat menslike hulpbronne is vanaf onderhoudvoering tot die indiensnemingskontrak.

 

VAKAKTIWITEITE

Praktiese opdragte sodat die leerders die praktyk kan beleef en sodoende toegerus kan wees vir die toekoms.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Entrepreneur, menslike hulpbronbestuurder, bemarkingsbestuurder, aankoopbestuurder, produksiebestuurder, finansiële bestuurder en vele meer.

REKENINGKUNDE

REKENINGKUNDE

 

TOELATINGSVEREISTES

Vanaf graad10 is Rekeningkunde ‘n keusevak. Die vak mag slegs geneem word indien ‘n leerder Ekonomie en Bestuurswetenskappe (EBW) as vak in graad 9 geslaag het. Wiskunde as keusevak in graad 10 word sterk aanbeveel, maar is nie ‘n vereiste nie.

 

BENADERINGSWYSE

Rekeningkunde word praktykgerig aangebied en konsentreer daarop om leerders met praktiese vaardighede toe te rus om hulle beroepsgereed te maak. Leerders ontwikkel karaktereienskappe soos deeglikheid, akkuraatheid, netheid, redenasievermoë en integriteit.

 

VAKAKTIWITEITE

Deelname aan die Rekeningkunde-olimpiade.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

‘n Noodsaaklikheid vir enige beroep vanaf ‘n tuisteskepper [begroting] tot ‘n ouditeur (geoktrooieerde rekenmeester). Elke landsburger moet sy eie finansies kan bestuur.

SOSIALE WETENSKAPPE

GEOGRAFIE

GEOGRAFIE

 

TOELATINGSVEREISTES

Geen.

 

BENADERINGSWYSE

Geografie stel leerders in staat om verskynsels, prosesse en ruimtelike patrone te verklaar. Leerders leer om ingeligte besluite te neem, veral oor die veranderende omgewing. Klem word op volhoubare ontwikkeling en die toepassing van geografiese vaardighede gelê. Geografiese inligtingstelsels is ‘n opwindende nuwe veld wat as onderafdeling van die kaartwerk geïnkorporeer word en word graag aanbeveel vir leerders wat belangstelling en vaardigheid in inligtingstegnologie en rekenaarsvaardighede het.

 

Geografie is ‘n mens- en omgewingswetenskap wat baie goed skakel met Lewenswetenskap, Ekonomie, Fisiese Wetenskap, RTT,  IT en Toerisme.

 

Leerders moet daarop let dat KAARTWERKVAARDIGHEDE hoofsaaklik in graad 10 afgehandel word en dat slegs toepassing van die teorie in graad 11 en 12 behandel word. Leerders moet oor basiese berekeningsvaardighede beskik om kaartwerk te kan doen.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Geografiese inligtingstelsels, omgewingsimpakspesialis, kartograaf, stads- en streeksbeplanner, geomorfoloog, geoloog, marine-bioloog, klimatoloog (weervoorspelling), toergids/veldgids, toeroperateur/reisagent, joernalis, museumkurator/personeel, onderwys, toerisme, argitektuur, vlieënier, ingenieur.

GESKIEDENIS

GESKIEDENIS 
 

TOELATINGSVEREISTES

Geen. 

 

Geskiedenis is ‘n sosiale wetenskap en stel die leerder bekend aan die:

 

sosiologie, sielkunde, politiek, ekonomie en kultuurverhoudings.

Geskiedenis laat ons in ‘n altyd veranderende wêreld,

die verlede beter verstaan,

die toekoms analiseer en

voorberei vir die toekoms.

Vir naskoolse studie in die buiteland is dit ‘n pluspunt.

TOERISME

TOERISME

 

TOELATINGSVEREISTES

Geen.

 

BENADERINGSWYSE

Prakties en teoreties. Portefeuljewerk wat ‘n praktiese komponent insluit.

 

KURRIKULUM

Toerisme as ‘n interverwante stelsel met al die komponente van toerisme, rolspelers in die toerisme-industrie en navorsing oor werks- en beroepsgeleenthede.

Verantwoordelike en volhoubare toerisme, gemeenskapsdeelname, ontgin toerisme-potensiaal in eie gemeenskappe, erfenisterreine en die belangrikheid van kulturele, natuurlike en geskiedkundige erfenis.

 

Toerisme-geografie, besienswaardighede en neigings word bestudeer.

Kliëntediens en kommunikasie, asook ‘n professionaliteit in ‘n toerisme konteks.

Bemark binnelandse toerisme en maak toerisme toeganklik vir alle Suid-Afrikaners tot voordeel van die hele land.

 

Wêreldtoerisme-ikone en ligging.

Vervoerdienste in Suid-Afrika en berekening van reiskoste, buitelandse valuta-berekeninge. Evalueer die Suidelike Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapslande as toerisme-bestemmings. Aanbieding van globale geleenthede in ‘n toerisme-konteks.

 

VAKAKTIWITEITE

Buitelandse toere en vakuitstappies.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Toeristegids, toeroperateur, bestuur in die gasvryheidsbedryf, ontspanningsbedryf, bewarings- en ekotoerisme, sport- en rekreasiebestuur, avontuurtoerismebedryf.

LO

LEWENSORIËNTERING

LEWENSORIËNTERING

 

TOELATINGSVEREISTES

Dit is ‘n vak wat vir universiteitstoelating tel, maar die toelatingpuntetelling (TPT-telling) word nie bereken nie.

 

BENADERINGSWYSE EN KURRIKULUM

Lewensoriëntering is die studie van die self in verhouding tot andere en tot die samelewing. Hierdie vak behandel die vaardighede, kennis en waardes oor die self, die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ‘n gesonde en produktiewe lewe, sosiale betrokkenheid, ontspannings- en fisiese aktiwiteite, loopbane en loopbaankeuses.

Die vak bestaan uit die volgende sewe onderwerpe in graad 10 tot 12:

Selfontwikkeling in die samelewing

Sosiale en omgewingsverantwoordelikheid

Demokrasie en menseregte

Loopbaan en loopbaankeuses

Studievaardighede

Liggaamsopvoeding

Die noodsaaklikheid van Lewensoriëntering

KUNSTE

MUSIEK

MUSIEK

Musiek as vak is ʼn sterk aanbeveling vir enige studierigting, omdat musiekleerders akademiese veelsydigheid en selfdissipline as gesogte uitkomste vir hierdie vak aanleer. Die brein word in totaliteit ontwikkel en kruiskontrole tussen die breinlobbe word in geen ander vak so effektief uitgedaag en ontwikkel nie.  Musiek tel vir TPT-punte.

 

Dit is ongelukkig nie moontlik vir ʼn leerder om in graad 10 eers met Musiek as vak te begin nie; daarom is alle voornemende kandidate onderworpe aan ʼn keuringsproses. Leerlinge wat reeds in graad. 8 en 9 Musiek as vak geneem het, word op grond van prestasie in die vak gekeur, andersins word aanbeveel dat ʼn leerder op minimum graad 3 praktiese en teoretiese vlak moet wees om sukses te behaal.

Musiek word as agtste vak aangebied.

 

BELANGRIK OM TE WEET

Leerders het die opsie om eksterne praktiese en/of teoretiese eksamens van UNISA, Associated Board of the Royal Schools af te lê. Slegs een instrument word saam met die relevante teoretiese komponente aangebied, maar leerlinge wat ʼn tweede instrument buitemuurs neem, kan dit ook as deel van die praktiese komponent van die vak aanbied.

Dink hieroor na – leerlinge wat nie ʼn voltydse loopbaan in musiek wil volg nie, het die geleentheid om, as deel van ʼn algemene skolastiese opleiding, Musiek in al sy fasette as ʼn skoolvak te ervaar. Dit is ʼn gulde geleentheid wat in min skole aangebied word. Leerlinge wat wel musiek as loopbaan oorweeg, word hier deeglik voorberei vir hulle musiekstudies.

Leerlinge wat klavier of enige ander instrument as instrument wil neem, moet ʼn instrument tuis beskikbaar hê om daagliks op te oefen.

Musiek as matriekvak word hoog geag wanneer aansoek gedoen word by tersiêre instellings, selfs as loopbaanrigtings soos medies of ingenieurswese oorweeg word. Dit is wyd bekend onder universiteitsakademici dat musiek as vak selfdissipline en selfmotivering kweek.

Musiek as vak bestaan uit drie komponente nl. Musiekteorie, musiekkennis en -leer en praktiese musiek. Elke komponent tel ‘n derde van jou finale punt. Assesserings bestaan uit geskrewe take en praktiese uitvoerings.

 

INSTRUMENTE VIR PRAKTIESE VOORDRAG

Klavier, sang, kitaar (akoesties en elektries), blokfluit, tromstel. Ons bied nie “keyboard” aan nie.

Koperblasers: Franse horing, skuiftrompet, tuba, trompet.

Houtblasers: Dwarsfluit, klarinet, hobo, fagot, saksofoon.

Strykers: Viool, altviool, tjello, kontrabas.

 

Onderrig in praktiese voordrag vind individueel tydens skoolure en na skool plaas, en instrument-spesialiste wat geakkrediteerde musiekonderwysers is, word waar nodig, deeltyds gebruik.

Deelname aan eisteddfods en kunswedstryde word aangemoedig en ondersteun.

 

Beroepsmoontlikhede:

  • Liedjieskrywer
  • Musical Theatre musiekkoördineerder
  • Onderwyser
  • Dosent
  • Radio-omroeper getaak met musiekkeuses
  • Musikoloog
  • Sessie musikant
  • Instrumentalis
  • Sanger
  • Kritikus
  • Dirigent
  • Opname tegnikus
  • Produsent
  • Musiekterapeut
VISUELE KUNSTE

VISUELE KUNSTE

 

TOELATINGSVEREISTES

Leerders moet besik oor ’n kunsaanleg en kreatiewe vermoëns.

 

KURRIKULUM

Ons dinamiese departement is betrokke by ‘n uiteenlopende verskeidenheid van kunsteorieë en praktiese komponente wat visuele kunste in ons samelewing vandag beklee. Visuele kuns bied opwindende en uitdagende leeruitkomstes aan, wat konseptualisering, kunsgeskiedenis, beeldende kunste, visuele kommunikasie en visuele kultuurstudies insluit.

 

TEORETIESE EN PRAKTIESE AFDELINGS

Kunsgeskiedenis in graad 10 en 11 behels die internasionale kunsbewegings vanaf die ontstaan van kuns tot die 20ste eeu se kuns.

 

Graad 12 Kunsgeskiedenis fokus op die kontemporêre Suid-Afrikaanse kunstenaars en ons integreer dit met 20ste eeuse internasionale kunsbewegings.

 

Praktiese komponente van visuele kuns sluit ’n verskeidenheid mediums en tegnieke in wat die leerder beoefen en in spesialiseer.

 

VAKATIWITEITE

Deelname aan verskeie kompetisies, jaarlikse kunsuitstallings en eisteddfod deelname.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Kunstenaar, mode-ontwerp, interieurontwerp, argitektuur, advertensie- en webontwerp, kunsonderwyser, kunskritikus, inligtingsontwerp en nog vele meer.

DRAMATIESE KUNSTE

DRAMATIESE KUNSTE

 

Toelating:

Leerder moet selfvertroue, kreatiwiteit en spontaniteit toon.

 

Sillabusinhoud:

Dramatiese Kunste bestaan uit twee komponente, teorie en prakties. Elke komponent tel 50% van jou finale punt. Assesserings bestaan uit geskrewe take en praktiese opdragte.

Leerders kry die geleentheid om kritiese denkers te word en om buite die boks te dink.

 

Kurrikulum:

  • Teatergeskiedenis
  • Nasionale en internasionale toneelstuk-analise
  • Filmkonvensies
  • Stem-en liggaamsontwikkeling
  • Tegniesevaardighede: Stel- en kostuumontwerp, grimering, klank en beligting.
  • Filosofie en teaterbewegings van die 20ste eeu

 

Beroepsmoontlikhede:

  • Skrywer
  • Vervaardiger
  • Regisseur
  • Onderwyser
  • Akteur
  • Radio-omroeper
  • Joernalis
  • Resensent
  • Verhoogbestuurder
  • Stelontwerper
  • Kostuumontwerper
  • Kinematograaf
  • Klank –en beligtingsoperateur
  •  

Vakaktiwiteite:

Buitelandse toere en vakuitstappies

TEGNIESE VAKKE

VERBRUIKERSTUDIES

VERBRUIKERSTUDIES

Baie mense het die verkeerde opvatting oor die vak Verbruikerstudies. Verbruikerstudies kan aan leerders veel meer bied as die sogenaamde “koekies bak” klas of om te leer hoe om ‘n goeie huisvrou te wees.

IN VERBRUIKERSTUDIES SAL DIE LEERDER DIE VOLGENDE BESTUDEER 

  • Verbruikersregte en -verantwoordelikhede
  • Verbruikersbeskermingsbeleid en kanale vir klagtes
  • Hoe om voedselverskaffers, klereverskaffers meubel-, en huishoudelike toestelleverskaffers en restaurante te evalueer
  • Hoe om ontwerpeienskappe van interieur, meubels en huishoudelike toestelle te evalueer
  • Verantwoordelike aankoopgedrag wanneer voedsel, klere, meubels en huishoudelike apparate aangekoop word
  • Die verantwoordelike gebruik van hulpbronne, soos water en elektrisiteit
  • Maniere om aardverwarming te beperk en voedselsekuriteit te verseker
  • Beplanning en bestuur van persoonlike finansies en betalingsmetodes
  • Belasting, rentekoerse en inflasie
  • Voeding en die impak van voedselkeuses op gesondheid
  • Voedselhigiëne
  • Hoe om produkinligting te gebruik om ingeligte verbruikersbesluite te neem
  • Die toepassing van ontwerpelemente en -beginsels in die keuse van klere en meublement
  • Eienskappe en gebruike van tekstielvesels en –materiale
  • Die modesiklus
  • Verskillende behuisingsopsies
  • Die behoeftes van mense met liggaamsgebreke ten opsigte van kleding en behuising
  • Kleinskaalse produksie, entrepreneurskap en bemarking van kwaliteit produkte

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Verbruikerskonsultant, verbruikersopvoeder, verbruikersnavorser, kapasiteitsbouer, binne-ontwerper en -versierder, binne-ontwerpkleinhandelbestuurder en -aankoper, behuisingskonsultant en -ontwikkelaar, kleinhandelaankoper, mode-aankoper en -bemarker, kwaliteits- en produkbestuurder, ontwerpaankoper /-beplanner, kwaliteitsbestuurder, produkpromosie en -bemarker, voedselprodukontwikkelaar.

 

MEGANIESE TEGNOLOGIE

MEGANIESE TEGNOLOGIE

 

BENADERINGSWYSE

Meganiese Tegnologie fokus op konsepte en beginsels in die meganiese (motor, mynbou, skeepsvaart, spoor, krag, opwekking, ens.) omgewing en op die tegnologiese prosesse.

 

Die Meganiese Tegnologie leerder moet geïnteresseerd wees in enige van die meganiese entiteite. Dit kan motors, vliegtuie, treine, sweiswerk, instandhouding ens, insluit.

 

Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Ingenieursgrafika en -ontwerp vorm deel van die meganiese studieveld en leerders word aanbeveel om die vakke saam met Meganiese Tegnologie te neem.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Vakleerlingskap as motorwerktuigkundige, passer en draaier, sweiser, ketelmaker, trekkerwerktuigkundige, ens.

 

Ingenieursstudies in lugvaart, lugversorging, motorvoertuie, enjins, skeepsbou, kragstelsels, kragstasies, ens.

ELEKTRIESE TEGNOLOGIE

ELEKTRIESE TEGNOLOGIE

 

TOELATINGSVEREISTES

‘n Leerder moet 50% vir Wiskunde hê om Elektriese Tegnologie te neem.

 

Elektriese Tegnologie fokus op die insig en toepassing van elektriese en elektroniese beginsels. Die vak fokus op drie hoofspesialisareas:

 

Elektries

Elektronika

Digitale Stelsels

Leerders met Elektriese Tegnologie vaar aansienlik beter tydens die eerste twee jaar op tersiêre vlak met ingenieursstudies as leerders sonder hierdie agtergrond. Dit gee hulle ’n voorsprong met die studie van ingenieurswese.

 

BEROEPSMOONTLIKHEDE

Elektriese passer, elektriese of elektroniese ingenieur, elektriese tekenaar, elektriese of elektroniese tegnikus, elektriese of elektroniese tegnoloog, digitale/sagteware-ingenieur, akademikus in die elektriese tegnologie-veld, elektroniese meganikus, outo-elektrisiën, elektrisiën, radio-tegnikus, selfoontegnikus, kommunikasietegnikus, elektroniese programingenieur, rekenaartegnikus, robotika ingenieur, megatroniese tegnikus, installasie-elektrisiën, radio-amateur, elektroniese stokperdjie entoesias, radiobeheer-entoesias en produksie-bestuurder.

IGO – INGENIEURSGRAFIKA en ONTWERP

INGENEURSGRAFIKA EN ONTWERP(IGO)

 

Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO) onderrig internasionaal erkende beginsels wat beide akademiese en tegniese toepassings het. Die klem in IGO is om spesifieke basiese kennis en verskeie tekentegnieke en -vaardighede te onderrig, sodat die IGO-leerder in staat sal wees om tekeninge te kan interpreteer en te produseer in die konteks van Meganiese Tegnologie, Siviele Tegnologie en Elektriese Tegnologie.

 

IGO fokus op:

  • Basiese tekenbeginsels vir ALLE tegnologiese tekeninge
  • Vryhandtekeninge
  • Instrumenttekeninge
  • Eerste- en derdehoekse ortografiese projeksies
  • Beskrywende meetkunde en vaste liggame
  • Meganiese werktekeninge
  • Siviele werktekeninge
  • Isometriese tekeninge
  • Perspektieftekeninge
  • Elektriese diagramme
  • Deurdringings en ontwikkelinge
  • Lokusse van helikse, nokke en meganismes
  • Die Ontwerpproses
  • ROT (Rekenaarondersteunde Tekeninge) / ”CAD”
ROBOTIKA

ROBOTIKA

 

Robotika is die studie van robotte en handel oor die ontwerp, konstruksie, werking en gebruik van robotte om spesifieke take te verrig. Leerders word aangemoedig om probleme op te los, terwyl hulle ervarings verbind word met voorbeelde uit die werklike wêreld. Hierdie vak is die middelpunt tussen rekenaarvakke soos Inligtingstegnologie, Rekenaartoepassingstegnologie, asook tegniese vakke soos Elektriese en Meganiese Tegnologie, wat ook by ons skool aangebied word.

Leerders wat belangstel in ingenieurswese, wetenskap en wiskunde sal baie van hierdie vak hou. Leerders word geleer om hul eie robot te ontwerp, te bou en dan programmeringsfunksies met hul robot uit te voer. Boonop leer hulle teorie oor Robotika wat hul belangstelling in hierdie veld nog verder laat toeneem.

 

Robotika word as ʼn addisionele vak, wat nog nie as ‘n KABV-vak deur die Departement van Onderwys gereken word nie, aangebied. Die beplanning is egter om Robotika nasionaal as ‘n amptelike KABV-vak binne die volgende vyf tot tien jaar in te faseer. Robotika as vak tel nie vir ʼn leerder se rapportgemiddeld nie, maar dit verskyn wel op die rapport en leerders ontvang ‘n sertifikaat met voltooiing van die kursus.

Die Robotika-kurrikulum is gebaseer op temagebaseerde uitdagings om leerders te betrek by navorsing, probleemoplossing, kodering en ingenieurswese. As gevolg van die leerders se blootstelling aan hierdie vak ontwikkel hulle meer selfvertroue, raak entoesiasties en word toegerus met vaardighede wat hulle in ‘n veranderende arbeidsmag benodig.

Die Robotika-kurrikulum duur een jaar lank, met ʼn klas een keer n week, van 1½ tot 2 ure lank. Die Robotika-kurrikulum volg ʼn KABV-benadering tot assessering. Hoërskool Centurion kan u met trots verseker dat ons Robotika-kurrikulum meer gevorderd as die meeste staatskole is. Die Robotika-kurrikulum word deur mnr. A. van Mazyk en Resolute Robotics (https://resoluteeducation.com/), in konsultasie met ander kenners in die robotikaveld, aangebied en opgestel. Hierdie kurrikulum word deur meer as tweehonderd privaatskole landswyd aangebied.

Ons bied ook in 2023 vir alle graad 8’s in skooltyd Robotika as vak aan. Graad 9 tot 12 loop klas na skool.  Die beplanning in die toekoms is om vir alle leerders in skooltyd Robotika aan te bied. Elke graadgroep volg hul eie, unieke kursus met die leerinhoud wat op mekaar bou. Elke kursus het ook ‘n inleidingsfase wat leerders aan Robotika bekendstel. Elke kursus begin met basiese konsepte en bou na meer ingewikkelde konsepte. Leerders het ook hul eie aanlyn platform waarop hul vordering gemeet kan word, klasvideo’s gekyk en praktiese asook teoretiese opdragte uitgevoer word.

Sewe redes om Robotika te neem:

1.    Dit is leerdergeoriënteerd en bied aan elke leerder die geleentheid om hul vaardighede teen hul eie tempo te ontwikkel. Die leerders neem beheer oor hul eie vordering.

2.    Dit ontwikkel veerkragtigheid en die vermoë om sukses te behaal nadat jy ‘n fout gemaak het; om weer te probeer tot die doel bereik word.

3.    Robotika en kodering ontwikkel logiese denke, met inagneming van wiskundige en wetenskaplike konsepte. Robotika skep samewerking en sosiale vaardighede.

4.    Koderingsvaardighede is hoog in aanvraag. Hierdie vaardighede ontwikkel onderhandelings- en redenasievaardighede.

5.    Programmering is die toekoms. Dit ontwikkel hoë vaardigheid-leerders vir hoë vaardigheid-loopbane. Kodering en robotika ontwikkel kreatiewe en kritiese denkvaardighede.

6.    Dit is ‘n prettige, interaktiewe manier om probleme op te los en boonop bevorder dit leer.

7.    Dit skep ‘n omgewing vir leerders om logiese volgorde-vaardighede, sowel as leierskap te ontwikkel om die vloei van ‘n projek te verstaan.

 

As jy in Robotika belangstel, is die Woerie-kampus die plek vir jou!

VAKVERANDERING - Banners White

Vakveranderinge het ‘n baie groot impak op die leerder se prestasie. Wanneer ‘n vakverandering gedoen word, impliseer dit dat die leerder self verantwoordelikheid neem om die agterstallige werk in te haal. Dit is daarom noodsaaklik dat deurdagte besluite oor vakkeuses al in graad 9 gemaak word.

 

Indien ‘n leerder se punte onvoldoende is, word die vakveranderingsproses soos volg hanteer:

 

Die ouer kan besluit dat ‘n leerder vakke moet verander, of die skool mag voorstel dat ‘n leerder vakke verander.
Vakveranderinge word slegs vir die eerste 2 weke aan die begin van die eerste of tweede kwartaal gedoen.
Die ouer moet ‘n brief aan die skool skryf om te versoek dat die leerder vakke verander.
Die brief word ingehandig by die graadhoof wat in oorleg met mnr. A. Labuschagne dan die verandering maak.
Die moontlike verandering is wel onderhewig aan rooster en klasgrootte uitdagings.
Neem asseblief kennis dat rooster-en onderwyserveranderinge onvermydelik is.
Die Onderwysdepartement het wel vakveranderingvereistes wat ook oorweeg moet word.

 

Maksimum 2 vakke verander in graad 10, voor 30 Junie.
Maksimum 2 vakke verander in graad 11, voor 31 Maart.
Uitsonderlik in graad 11 nog 1 vak verander, voor 15 Desember.
Voorsien brief van ouers
Voorsien brief van hoof
Voorsien brief van onderwyser
Hoef nie SBA op te vang nie.
Moet al die oorblywende SBA’s doen

Volg ons op sosiale media…

KONTAK:

 

Selbornelaan 118
Lyttelton Manor
Gauteng
Suid-Afrika

 

+27 12 66 45 803
Maandag – Donderdag: 7:00 – 15:00
Vrydag: 7:00 – 14:00

REGISTREER:

Om te registreer vir omsendbriewe, tik asseblief u e-posadres in die onderstaande blok. ‘n E-pos ter bevestiging sal aan u gestuur word.